|
|||||||
|
|||||||
| Peter Vale *Nelson Mandela Professor
van Politieke Wetenskap aan Rhodes-universiteit. In die eerste maande van 2008
sal hy as Gasprofessor in Internasionale Betrekkinge aan die
Macquarie-Universiteit in Sydney, Australië optree. Naomi Klein, The Shock
Doctrine. The Rise of Disaster Capitalism. London: Allen Lane, 2007. In opvolging van die
triomf van haar anti-globaliseringsboek, No Logo, het Naomi Klein haar
visier gestel op die vertolking van die “post-globaliseringsmoment” – daardie
arrogansie van die VSA se Neokonserwatiewes, daardie land se geslaagde
betreding van eers Afghanistan en toe Irak in ’n deurlopende poging om die
post-Koue Oorlogse wêreld te herskep. Die resultaat is ’n boeiende boek – ryk
aan eietydse geskiedenis, sterk aan vergelykende politiekery, maar oplaas
uiters neerdrukkend. As haar
aanvoeling van ons tyd suggereer dat die presidentskap van George W Bush ’n
breukmoment in die VSA se plek in die wêreld verteenwoordig, vra Klein ons om
te herbesin. Wat belangrik was – en nog belangriker gaan word – is die teendeel
van ’n breuk, naamlik die voortsetting van die VSA se globale doelwit oor die
afgelope ses dekades. Maar haar argument is nie – soos dié van soveel ander
kritici van Bush en sy Neo-Con-ondersteuners – gesetel in die hoë ideale van
die VSA se aanvangs- buitelandse beleid wat met Woodrow Wilson se 1917-visie
vereenselwig word, om ‘die wêreld ’n veilige plek vir demokrasie te maak’ nie. Nee, Naomi
Klein begin haar ontleding by die hoogtepunt van na-oorlogse optimisme, toe
daar veral in die VSA geglo is dat alle kwale besweer kan word. En sy verken
ook nie die verhewe (maar knaend misplaaste) aansprake van internasionale
politiek nie, maar die tegnieke van elektro-skok wat ‘geheuewissing en
herskepping van die menslike gees’ behels het. In daardie stadium is
disoriëntering, ontbering en herprogrammering van die maatskaplike doelwit ’n
betroubare wyse geag om psigologiese patologie op te los. Teen die middel-60’s
het hierdie benadering die Amerikaanse Intelligensiediens al hoe meer geboei as
“nuwe” metode om inligting uit mense te onttrek – met ander woorde, deur
martelmetodes. Klein wend haar tot die genealogie van Westerse marteling, wat
briljant verken is deur die Amerikaanse historikus, Alfred W. McCoy. Hierdie klas
spesiespronge van een stel maatskaplike roetine na die ander –psigologie tot
marteling – vorm die spil van ’n Naomi Klein-argument. In haar volgende stap
neem die tegnieke van psigologiese disoriëntering die volgende sprong – hierdie
keer tot in die ekonomie, deur die uitvinding van die markgebaseerde ekonomiese
ortodoksie wat die meeste benaderings tot die moderne ekonomiese beleid
oorheers. Die plegers van hierdie sprong was natuurlik nie die Amerikaanse
Intelligensiediens nie, maar die Chicago-Skool vir Ekonomie (Chicago School of
Economics), oorheers deur die miniatuurfiguurtjie van Milton Friedman. Sedert sy dood
in 2006 is daar heelwat oor Friedman geskryf. Baie daarvan het aan hom ’n
leeue-aandeel toegeken vir sy bydrae tot die herontdekking van “die mark” en sy
onvermoeide pogings om in die oë van die publiek die idee te vestig dat “vrye
markte” die enigste lewensvatbare ekonomiese waarheid en die enigste ware
menslike vryheid beliggaam. Die verslag oor Friedman wat in Klein se bladsye
staan, is begryplik meer krities as hierdie lofredes. Om eerlik te wees, is
Klein onvergewensgesind jeens die Chicago-skool en veral Friedman. Dit is omdat
Friedman so invloedryk was terwyl sy messiaanse energie die eerste skuif gemaak
het om diktators van die Koue Oorlog nader en nader te lok na die persepsie dat
die vrye mark hulle sal help om die wêreld veilig te maak – nie soseer vir
demokrasie nie, maar vir Amerikaanse kapitaal. Hoe werk
hierdie benadering – wat sy ’n “skokleerstelling” noem? ’n Krisis lei
sonder uitsondering tot eenvoudige oplossings. So het die disoriëntasie wat
deur vinnige politieke verandering meegebring is, die vrees vir die verlies van
rykdom verdiep, wat op sy beurt deur die moontlikheid van ekonomiese
versmelting gegenereer word. Die teenvoeter hiervoor word gesuggereer deur ’n
inkantasie: die belofte van stabilisering gebied deur markgedrewe
kitsoplossings soos die verlaging van subsidies op stapelvoedsels, devaluering
van die geldeenheid en die privatisering van noodsaaklike dienste. In bykans
elke uithoek van die wêreld, insluitende die VSA., voer Klein aan, is hierdie
benadering tot openbare beleid sedert die Chicago-rewolusie op die proef
gestel. Beginnende met
die staatsgreep teen Salvador Allende se Chili in 1973 word die ontwikkeling
van hierdie “ekonomiese” skokleerstelling sorgvuldig gekatalogiseer. Dis nie
vreemd nie dat dit Augusto Pinochet was, die diktator wat die ondergang van
Allende se Sosiale Demokrasie opgevolg het, wat die ‘plakkaatkind’ geword het
van die Friedman-tipe markekonomieë. In die geval van Chili is die weg na die
nuwe orde deur die sogenaamde “Chicago Boys” beveilig – die slimste en beste
van Chili se elite wat onder Friedman gestudeer het en gereed was om hulle land
in ’n markgebaseerde paradys om te skep na die militêre greep. Onderwyl die
ekonomie oëskynlik die toon aangee, is daar ’n verbintenis met politieke mag
wat vir die skokleerstelling noodsaaklik is om te slaag. Soos Klein dus
verduidelik, sou die vrye mark se sukses nooit sonder die politieke knoeiery
van Washington gewaarborg gewees het nie. In September 1973 was die
medepligtigheid van dr Henry Kissinger – destyds nog Veiligheidsadviseur vir
die Amerikaanse President, maar op die punt om as Minister van Buitelandse
aangewys te word, kritiek. Maar tesaam gesien, was die politieke intervensie en
sy ekonomiese aspek ’n “provokasiekrisis” en het dit ’n patroon begin wat in
Asië, Afrika en Latyns-Amerika herhaal sou word. Inderdaad is die besef van die
mag van opsetlik aangehitste krisisse in 1993 deur John Williamson, ’n adviseur
van die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds, toegejuig, wat vir sy
skepping van die frase, “the Washington Consensus” (die Washington-Konsensus) ,
nog beroemder is. Klein se
vroeëre argument kan teruggevoer word tot die sameloop van die Koue Oorlog en
die Ekonomie, maar die krag van die boek lê nie daarin om hierdie twee idees
met mekaar te verbind nie: daar is ander wat reeds hierdie soort werk gedoen
het. Buitendien loop Klein se betrokkenheid, soos ons sal sien, wyer as die
Koue Oorlog. Maar as dit nodig is om die boek binne ’n konseptuele raamwerk te
plaas, dan is dit ’n boek oor die maatskaplike mag van idees. In wese voer dit
aan dat idees belangriker is as enigiets anders! Die ware
energie van Klein se narratief lê in haar onbewuste gebruik van maatskaplike
teorie om te verklaar hoedat sowel mag as waarneming die mag van die ekonomie
versterk. So, en in navolging van die werk van teoretiese kritici, spreek sy
haar duidelik uit oor die rol wat dinktenks en talle van Friedman se dissipels
wat dit beman, in eietydse politiek speel. Sy is ook bewus van die
dubbelsinnige gebruik van die taal van die maatsaplike teoriste en die
meerduidige betekenisse wat die teoloë van die mark aan woorde soos
“staatsbestuur”, “deursigtigheid” en “aanspreeklikheid” heg. Teologies mag
hulle wel deeglik wees, maar die mag van hierdie woorde kan nie onderskat word
nie, soos die volgende verhaaltjie uit my eie ervaring illustreer. Enkele jare
gelede het die Direkteur-generaal van die Presidensie, Frank Chikane,
Rhodes-universiteit besoek. By ’n openbare vergadering waar hy die aanwesiges
toegespreek het oor “Accountability in Government” (Aanspreeklikheid in die
Regering), was die universiteitsdepartement wat die sterkste verteenwoordig
was, die Departement van Rekeningkunde! Die mag van
hierdie “prisma van ekonomie” – ’n frase uit die pen van John Ralston Saul,
Naomi Klein se Kanadese landgenoot, is op ’n reeks lande toegepas, veral nadat
die Berlynse Muur ineengestort het. Klein ondersoek hierdie lande – Pole,
Rusland, ens. – asook Asië na die krisis van 1997. In ’n
afsonderlike hoofstuk getitel “Democracy Born in Chains” (Demokrasie In
Kettings Gebore), kyk sy na Suid-Afrika. Die koers wat sy inslaan, kan as
voorspelbaar beskou word, aangesien die omtreklyne van hierdie werk reeds deur
Hein Marais, Patrick Bond en verskeie andere getrek is. Klein se werk is egter
konseptueel veel interessanter, omdat sy die Vryheidshandves met die
Friedmanistiese ekonomie jukstaponeer, wat nagestreef is sedert die ANC se omhelsing
van die Washington-Konsensus in 1995. Natuurlik is Thabo Mbeki se omskakeling
na GEAR (Strategie vir Groei, Werkverskaffing en Herverdeling) deur die markte
verdiskonteer (“discounted by the markets”) – ’n opsetlike gebruik van hierdie
beroemde frase – maar soos Klein aandui, is die onderduimsheid waarmee GEAR in
beleid herlei is, tiperend van die skokdoktrine. Vanselfsprekend (soos deur
baie indertyd opgemerk is) was die verhewe demokratiese ideale rondom
“deursigtigheid”, “aanspreeklikheid” en “staatsbestuur” grotendeels afwesig toe
die ommeswaai van Heropbou en Ontwikkeling (HOP) na GEAR gemaak is. Geen wonder
dat baie mense dwarsdeur hierdie terme sien as blote retoriese foefies nie. In haar
bespreking van Suid-Afrika kyk Klein egter ’n paar sake mis. Eerstens merk sy
nie op dat daar tussen die Vryheidshandves en die vrye mark ’n aantal
ekonomiese posisies in anti-apartheidskringe saamgesmelt het nie. In weerwil
van sy skril Marxistiese retoriek, was die UDF per slot van sake ’n breë
kerkverband. Tweedens kan die mag van die scenario-manie wat van die middel
1980’s in Suid-Afrika vaardig was, nie misken word nie. Soos die beroemde Mont
Fleur Scenaria geïllustreer het, was die effek hiervan om komplekse
maatskaplike realiteite tot ’n paar simplistiese veranderlikes te reduseer wat
maklik gemanipuleer kan word. En oplaas verontagsaam sy die knaende spannings
oor ekonomiese beleid wat die Mbeki-presidensie gekenmerk het. Maar terwyl
die skokleer ’n troebel lens is om die onmiddellike verlede deur te bekyk, is
dit na die post-globaliseringsmoment – lees die post-9/11, post-Asiatiese
Tsunami, post-Orkaan Katrina-moment – dat hierdie skok in ’n klugspel verander.
Indien die
ekonomie sedert die val van die Berlynse Muur die toekoms van die politiek verteenwoordig,
dan het onlangse gebeure veiligheid en ekonomie sinoniem gemaak. Ironies genoeg
het die Bush-bewind se obsessie met hierdie skakel die wêreld nie onveilig vir
demokrasie nie, maar onveilig vir almal gemaak. Dit het ’n wêreld geskep wat
beheer en gemonitor word deur waarneming: waarvan laasgenoemde vervolmaak is in
Israel, die mees veiligheidsbewuste van alle plekke. Die vaardigheid wat vereis
word om dit te verkry, word verklaar deur die instroming van
Sowjet-wetenskaplikes waarvan nie almal Jode is nie, maar mense op soek na ’n
ander tuiste – in Israel na die ineenstorting van die Kommunisme. Klein haal ’n
ekonoom aan wat verklaar “hulle het vuurpylbrandstof vir Israel se
tegnologiebedryf geword”. Hoewel die VSA
se vasberadenheid om demokrasie na Irak te bring, die plakkaatkind is van die
persepsie dat “9/11 alles verander het”, lê die werklik interessante deel van
Naomi Klein se verslag in ’n ander voorbeeld wat sy bespreek, Sri Lanka. Voor die
Asiatiese Tsunami van 26 Desember, 2004 het die eiland se regering die land
gereed gemaak vir ’n opbloei in toerisme. Die grootste struikelblok in die
verwesenliking van hierdie ambisieuse plan was die miljoene kleinboere wat ’n
bestaan uit die see gemaak het, en wie se slordige lewens die land se ongerepte
strande ontsier het. Natuurlik het die tsoenami dit opgelos: toe die krisis oor
was en mense na hul werkplekke terugkeer, is hulle meegedeel dat ‘nuwe
regulasies’ nou van krag is. Die strande is nou vir hulle verbode, maar geen
grond was vir hulle beskikbaar om hulle elders te gaan vestig nie. Irak is egter
belangrik: die gebeure van hierdie afgelope vyf jaar bly ’n bedreiging vir
wêreldvrede en, ja, dit moet gesê word, ’n klad op die edele gedagte van
demokrasie. Maar Bush se aansprake op die verhewe saak soos deur Woodrow Wilson
uitgespreek om die wêreld veilig te maak vir demokrasie, het lankal opgeroes.
Maar ironie het sy merk op die verhaal gelaat. Ofskoon ’n
politieke ramp, was Irak ’n meevallertjie vir Amerikaanse besigheid. Die
stemwerwing van die Keynesiese staat – waarteen die Chicago-skool gekrakeel het
– word deur massiewe militêre uitgawes gevoed. En Halliburton – waarvan Dick
Cheney, Adjunkpresident van die VSA eenmaal die voorsitter was – is die
grootste begunstigde. Die militêr-industriële kompleks waarvan Dwight
Eisenhower, Amerikaanse Generaal wat ’n Republikeinse president geword het,
eenmaal gepraat het, bekruip meer as die land wat Amerika genoem word: dit
bekruip die ganse planeet. Naomi Klein
het ’n kragtige boek geskryf – soos egter tweemaal hierbo gemeld is, is dit
baie morbied. Maar onderwyl hierdie woorde getik word, is die VSA se hawe van
hoop – die Demokratiese party van John Kennedy se Camelot, van Lyndon Johnson
se “Great Society” en van die heel sonderlinge Jimmy Carter – besig om hulle
presidensiële kandidaat te kies. Meer as in enige ander stadium van my volwasse
lewe is hulle taal die taal van “Verandering” – verandering in gesondheidsorg,
in openbare onderwys, verandering in buitelandse beleid, selfs verandering in
die versorging van oorlogsveterane. Elke kandidaat
het ’n brandende saak uitgemaak vir ’n ander VSA – een wat saam met die res van
die planeet in plaas van daarteen leef. Kan hierdie oomblik die einde beteken
van die Skokleer? Verteenwoordig die agt jaar van George W Bush ’n breuk,
eerder as kontinuïteit? Dis vrae
hierdie wat Naomi Klein ongelukkig nie in hierdie insiggewende boek beantwoord
nie. |