Henk Venter
In vandag se gejaagde lewe het die tyd om stil
te raak ’n absolute luukse geword. My landskapfotografie is vir my ’n
geestelike reis. Ek poog ook om vir die kyker ’n voorsmaak te gee van wat dit
is om weer stil te word. Tradisioneel was fotografie gesien as ’n medium om ’n
enkele moment vas te vang – ek breek weg van hierdie siening en maak gebruik
van lang beligtings, soms so lank as vyf uur. Die tydverloop van elk van
hierdie beligtings word dan saamgevat op een skyfie, wat dan gedruk en
voorgestel word as ’n enkele moment. Dit kan vergelyk word met wanneer ’n mens
al die beelde in ’n rolprent alles op een foto sou druk. Die eindresultaat is
vir my simbolies van wat dit aan mens doen as jy die tyd afknyp om stil te word
en by God uitkom. My hoop is dat dit die kyker sal aanmoedig om te reflekteer
oor die doel van die lewe - om hopelik by die waarheid uit te kom.
Lewer kommentaar op hierdie bydrae |