|
|||||||
|
|||||||
| Jaap Steyn *Skrywer
van Die honderd jaar van MER (Kaapstad: Tafelberg, 2004).
Oral
ter wêreld is individue en groepe steeds op soek na ’n nuwe, beter tuiste. So
was dit altyd. Daar was ’n Völkerwanderung, en onder Afrikaners ’n
“Groot Trek”, met later “Agternatrekkers”, “Dorslandtrekkers” en ’n “trek na
die stad”. Ook deesdae beleef Afrikaners ’n volksverskuiwing – honderdduisende het
geëmigreer, in die land self trek sommige na die Wes- en die Suid-Kaap.
Plattelandse gemeenskappe kwyn onder meer vanweë “grondhervorming”. Party
emigreer “na binne”, sluit hul oë vir die res van die gemeenskap. Die wel en wee van “bly of gly”,
die soek na die regte plek, kan ’n mens sien in die lang lewe van M.E. Rothmann
(1875-1975), beter bekend as die skryfster M.E.R. Sy is op Swellendam gebore en het
brandarm grootgeword. Met beurse het sy die laaste deel van skool klaargemaak
en haar B.A. verwerf aan die South African College, voorloper van die
Universiteit van Kaapstad. Op skool en kollege het sy onder
die bekoring van die Engelse taal en kultuur gekom. “Van kleins af het duisend
drukkinge dit op my ingestempel dat wat Engels is, goed is; wat Afrikaans is,
minder goed”. Die Jameson-inval in die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) in 1896 –
haar laaste jaar op kollege – het haar, soos talle Afrikaners oor die hele
land, laat besef dat hul geestelike tuiste nie in die Engelse taal en kultuur
geleë is nie. Sy vertel dat sy in daardie Engelse omgewing “die voorouers se gees” in
haar voel roer het. Dit het by haar die voorneme gewek: “Ek by my mense!”
Daardie voorneme “het deur die jare nooit verander nie, en selfs sterker
geword.” Haar eerste groot verhuising was in 1897 na ’n staat waar haar mense regeer
het: Transvaal. Sy en haar ouer suster Annie het daar skoolgehou, terwyl haar
broer Frits werksaam was by ’n myn. Vir die jong Bolanders wat Transvaal toe is, “was dit soos ’n vis wat
gesukkel het in ’n vlei en toe in ’n mooi rivier uitkom”, sê M.E.R. Dit was nie
die salarisse en werkgeleenthede wat baie jong mense uit die Kaapkolonie getrek
het nie. Daar was baie méér. In plaas daarvan dat hulle hul eie taal moes opsy
laat en verag en as kind gestraf word oor die gebruik daarvan, was dit hul eie
taal wat gebruik is in die Volksraad, die geregshof, die staatsdiens en die
skool. Amptelik was dit “Hollands”, maar in die praktyk was dit gewoonlik
Afrikaans. “In plaas van die geskiedenis van die eie volk as ’n belaglike en
veragtelike flentertjie in ’n Engelse skoolboek teë te kom, is dit as eervolle
besitting bestudeer.” Die vlag was nie die Union Jack nie, maar die Vierkleur,
en die volkslied wat die hart laat klop het, was nie “God Save our Gracious
Queen” nie, maar “Heft Burgers” in die Vrystaat en “Kent gij dat Volk” in
Transvaal. “En al jou vriende was mense wat net soos jy behae gehad het in die
selfstandigheid en al sy uitinge, selfs ook in die strikke en linte, die pluime
en die uniforms, die optogte en die staatskoetse, waarin die Presidente by
groot geleenthede vervoer moes word; en veral in die staatsartillerie met sy
dissipline, sy Krupps en sy Creusots – behae in al die dinge wat ’n jong volk
se hart so sterk. Ai, dit was dae! Dit was heerlik om jonk te wees, en dit in
die Republieke!” Sy was nie sonder kritiek op Transvaal nie. In haar outobiografiese
vertelling, My beskeie deel, betreur sy, sonder om dit sterk te stel,
die “eksklusiewe Transvaalse nasionale strewe” waarop Pieter de Klerk in Die
Vrye Afrikaan (19 Oktober 2007) wys. En tog het die drie jaar in
Transvaal van M.E.R. ’n oortuigde republikein gemaak en ’n nog groter
teenstander van die Britse imperialisme as voorheen. Kruger se nasionalisme was
nie ’n leer van haat nie, betoog sy in 1935; dit was wel “’n leer van
beskerming van wat in my volk goed is: van verdediging daarvan tot die dood
toe; van afweer van wat vir my volk sal kwaad doen, en wat die goeie en gesonde
in hom negeer en verwaarloos. “Ons het in Transvaal geleer wat
dit beteken om ’n Afrikaanse volk te wees, ’n suiwer Afrikaanse volk. So sal
ons seker nie weer kan wees nie, maar wie dit gevoel het, kan dit nooit vergeet
nie.” Die Tweede Vryheidsoorlog het ’n einde aan die lewe daar gemaak. Ná die
Britse anneksasie van Transvaal is die twee susters terug Swellendam toe; Frits
was ’n bittereinder. Die owerheid het gesorg dat die twee Rothmann-susters nie kon skoolhou nie,
en toe M.E.R. ’n pos aan ’n private skool op Grahamstad kry, is sy soontoe.
Daar het sy verlief geraak op haar Engelssprekende hoof. Uit hul huwelik is ’n
dogter en ’n seun gebore. Maar die huwelik was ongelukkig; hulle is geskei en
sy is met die kinders terug na Swellendam. Ná ’n paar jaar as onderwyseres
daar, is M.E.R. na haar broer Frits, wat in die Transvaalse Laeveld geboer het.
Maar die boerdery was nie betalend nie, en sy moes weer gaan geld verdien –
eers as onderwyseres op Ermelo, toe in Pretoria as redaksielid van die eerste
Afrikaanse vroueblad, Die Boerevrou, en ten slotte van 1922 af as eerste
volwaardige redakteur van Die Burger se vrouebladsy. ’n Hele paar jaar het sy die vroue,
én die mans, ingelig oor aktuele sake soos vrouestemreg, die belangrikheid van
moedertaalonderwys en die bewaring van ons natuur- en kulturele erfenis. Sy was die dryfkrag agter ’n
taalhandhawingsveldtog in Kaapstad. Al hoe meer het sy betrokke geraak by die
ondersoek na en beriggewing oor die omvang van blanke armoede in die Kaap. In 1928 het sy haar werk by Die
Burger bedank vanweë spanning tussen haar en die bestuur. Sy het besluit om in diens van die
gemeenskap te bly. Haar oogmerk is diens aan die Afrikaanse vrou, skryf sy in
1928 aan ’n vriendin, Anna Geyer: “Nou, ek voel vas en seker dat van my kragte,
sover dit deug, nog gebruik gemaak sal word vir die ontwikkeling van
iets goeds by die vrouens: hoe, kan ek nou nie sien nie. Maar so ’n sterk
verlange wat in my is om gebruik te word, sal ’n vervulling kry!” Uniek was hierdie soort versugting destyds nié. Dit was die bloeitydperk
van Afrikanernasionalisme. Jong mense, maar ook oueres soos die 52-jarige
M.E.R., het, soos die historikus G.D. Scholtz dit stel, “gebrand van begeerte
om hul land en volk op verskillende terreine van die lewe te gaan dien”. Uit haar verslagwerk oor armoede
het sy geweet wat verkeerd was, en sy wou sy haar kragte gebruik vir “volk
aankant maak”. Dié beeld het sy graag gebruik. Sy
het besef dat die “volk se huishouding” deurmekaar was en wou die saak nagaan,
die oorsprong daarvan probeer vasstel en iets daaraan doen. “Die goeie
huisvrou, die enigste wat die naam werd is, het ’n agting vir ordelikheid en
kan nie rus voordat sy sien dat haar huis aankant is, of goed op weg om aankant
te raak nie. So is dit met die volksaankantmaker.” Die kans hiervoor het gekom toe die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging
haar in 1928 aangestel het as eerste reisende en organiserende sekretaresse.
Daarvoor het sy op eie versoek geen salaris ontvang nie. Jare lank het sy die
werk gedoen en is sy slegs vir haar reiskoste vergoed. Ook in 1928 is sy aangestel as lid
van die Carnegie-kommissie van ondersoek na die armblanke-vraagstuk. Albei, die
ACVV en die Carnegie-kommissie, het haar ’n “onskatbare weldaad gedoen deur my
vir hulle werk in te span”. Die werk was vir haar “aangrypend interessant”, en dit was verrykend om “so
van naby met jou mense op ander plekke en onder sulke verskillende
omstandighede kennis te maak. Ek weet waarlik nie watter belangriker wins,
behalwe die harmonie van gesinslewe en vriendeverkeer, die lewe aanbied nie.” M.E.R. het haar ACVV- en ander werk van Swellendam af behartig. Haar
enigste inkomste was uit skryfwerk vir Die Burger en Die Huisgenoot.
Haar weeklikste rubriek in Die Burger het gehandel oor landsake, ook die
politiek. Dikwels het sy opgetree as pleitbesorger van die belange van die
vrou. Soms het sy gewys op die groot verskil in salarisse wat mans en vroue vir
dieselfde werk ontvang. Ook die nood en ellende van ander groepe het sy
raakgesien. Dit alles het sy gedoen van ’n
rietdakhuis wat sy op Swellendam laat bou het met geld wat sy moes leen. Sy het
die erf uitgekies ter wille van die uitsig. As 84-jarige skryf sy: “Ver sien,
dit is baie heilsaam. Ver, en onbeperk; daar moenie ’n afsluiting wees nie”. Komnader het sy die plek gedoop. Dit was vir haar ’n “uitvlugplek”. “As ek
hier is, voel ek soos ’n bok wat by haar lêplek in die veld ingekruip het. So
’n houplek beteken darem veel.” Teen die einde van haar lewe skryf sy sy wonder
hoeveel van die geluk wat sy ervaar het, van dié huis afkomstig was – “en hoe
meer ek die saak bekyk, hoe groter word die huis se bydrae”. Merkwaardig is dit wat sy alles op Komnader gedoen het met ’n karige
inkomste. Baie jare was sy sonder telefoon of radio, nooit het sy ’n motor
gehad nie (maar die treindiens was veel beter as vandag). Van die nederige huis
af het sy haar ACVV-reise beplan en verslae opgestel, haar koerant- en
tydskrifartikels geskryf, die meeste van haar boeke, asook ’n menigte briewe.
Sommige is opgeneem in twee bundels met nagelate briewe ’n ryke erfenis
soos die titel van een daarvan lui. In My beskeie deel skryf sy:
“Wat met ons as volk gebeur het, het vir my, soos vir elke normale Afrikaner,
altyd diep aangegaan ... Ook leef ’n mens nie alleen in die eie persoon nie,
maar deur en met jou volk. Word die volk se lewensfunksies gekeer, kwyn die
individu ook. […] As ek nou die lewensbeskrywing van Steyn en Hertzog lees,
vind ek in hulle briewe van daardie tyd, soos in ’n spieël, ons hele
nimmerverslappende opdraand gesukkel om onsself te bly...” Kortom: in haar “soeke na ’n tuiste” het M.E.R. weg beweeg van die Engelse
wêreld tot ’n tuiste by haar eie mense en taal, en ’n bevredigende lewe gevind
in gemeenskapsdiens en “volk aankant maak”. Haar woonplek was in sekere sin ’n
weerspieëling van haar lewe van getrouheid en diens aan die volk of gemeenskap.
Die onlangs oorlede letterkundige, Elize Botha, skryf oor ’n besoek aan
Komnader: “’Kyk van jouself af weg’, só herinner ek my M.E.R. se woorde wat ek
altyd aan die uitsig van die voordeur af sal verbind.’Kyk van jouself af weg’ –
die vertrekpunt, as ek haar boeke reg lees, vir háár soektog deur die
‘thicket’”. |