|
|||||||
|
|||||||
|
Soos
Die Vrye Afrikaan in ons vorige hoofartikel aangevoer het, behoort
landsburgers nie die fout te maak om hulle heil volledig van enige politieke
party afhanklik te stel nie – Afrikaners weet maar te goed wat die gevolge van
so ’n benadering oplaas in die vorige bedeling was. Met die ter perse gaan van hierdie uitgawe
was dit meer as twee en ’n half weke voor die uitslag van die ANC se
leiersverkiesing in Pietersburg (Polokwane), en sowat tien dae nadat die groot
nuus mnr. Jacob Zuma se oorweldigende steun in die ANC-nominasieproses was.
Landsburgers wat aan die einde van nog ’n besige jaar besin oor wat was en wat
kom, kan nogtans heelwat leer uit die boeiende gebeure rondom die nou berugte
opvolgstryd, wat die land se aandag nou al tot sterwens toe besig gehou het. ´n Eerste opmerking hou verband met die
hoofstroommedia, en veral die pers, se dekking en ontleding van die
opvolgstryd. Terwyl die stemming in die pers die afgelope maande oorwegend ten
gunste van ’n “kompromiskandidaat” was, en beslis gelaai teen mnr. Zuma, was
die nuus van sy nominasie duidelik soos ’n skoot koue water in die gesig van
die pers. Die Sondag ’n week na dié nuus was die
Sondagkoerante vol wroegende vrae oor hoe die media die stemming ten gunste van
Zuma dan so verkeerd gelees het. Een van die verduidelikings wat hiervoor
aangevoer is, is dat joernaliste die laaste maande eerder met mekaar as met
ANC-lede self gesels het, en so uiteindelik mekaar se stemming eerder as dié
van die ANC weerspieël het. Dit mag so wees, maar bes moontlik lê daar
meer opgesluit in ’n opmerking deur die mediakommentator, prof. Anton Harber van
Wits, in Business Day van Woensdag 5 Desember, 2007. Harber skryf: “Die
eintlike fout was die aanname wat joernaliste dikwels maak: dat hulle waardes
dié van die breër samelewing is.” Goed gesê, maar wat ís die waardes van
onderskeidelik joernaliste en die breër samelewing in Suid-Afrika? As dit oor hoofstroomjoernaliste gaan, kan
’n mens hierdie vraag nie beantwoord nie sonder om in gedagte te hou dat so te
sê al die kommersiële dagblaaie en weekblaaie in Suid-Afrika in die besit van
groot mediagroepe is. Daar kan min twyfel wees dat hierdie mediagroepe, wie se
leierskap deel van die elite in Suid-Afrika en dus ondersteuners van die
neoliberale globaliseringsekonomie is, die klassieke waardes van die liberale
demokrasie aanhang. Dit is waarom die kompromiskandidate, mnre. Tokyo Sexwale
en Cyril Ramaphosa, albei strydrosse van die swart tak van die neoliberale
ekonomie, ook vir die blaaie van hierdie groepe so aanvaarbaar was. (En ’n mens
ver in hierdie blaaie moet soek vir enige ontleding wat óf met die uitdagings
van kulturele diversiteit, óf wisselende vlakke van modernisering, óf met die
gaping tussen arm en ryk veel erns maak.) Dít wat in die vorige paragraaf tussen
hakies staan, bring ons by die vraag na wat die waardes van die breër
samelewing in Suid-Afrika is. Die begrip “breër Suid-Afrikaanse samelewing” is
net so amorf as pres. Thabo Mbeki se geliefkoosde “massas van ons mense”, en
dit is dus wys om spaarsamig met veralgemenings oor hierdie kategorie mense om
te gaan. Nogtans kan ’n mens uit die getuienis uit
peiling na peiling van openbare steun vir die doodstraf, van ’n anti-gay
houding, van ’n twyelagtige verbintenis tot gendergelykheid, asook voorbeelde
van vigilante-strafoplegging, die toevlug tot geweld in die oplossing van
persoonlike geskille en dergelike voorbeelde minstens dit sê, naamlik dat die
model van ’n tipiese Westerse liberale demokrasie vir Suid-Afrika kwalik deur
die meerderheid mense in die land geesdriftig ondersteun word. Die misbruik van
daardie staatsinstellings wat sedert 1994 ingestel is in die naam van ’n
regstaat, om opponente van die dienende staatspresident te karnuffel, sou ook
geensins die saak van die liberale demokrasie in Suid-Afrika goed gedoen het
nie. Dat daar veel waardevol in die liberale
demokrasie is, val nie te betwyfel nie. Maar in Suid-Afrika is dié model op so
’n lukrake wyse en onder korporatiewe druk deur die twee groot nasionalistiese
partye van die land met die oorgang van 1994 aanvaar, dat dit niemand hoef te
verras as die gebrek aan besinning oor watter instellings, watter staat, watter
politieke kultuur die goeie lewe in Suid-Afrika sal bevorder, nou al hoe
duideliker word nie. Dit is ongetwyfeld uit hierdie gaping tussen die ideale
van die land se elites en die daaglikse lewe van die gewone landsburgers wat
die steun vir mnr. Zuma gekom het. Moet dit noodwendig ’n stemming van angs
in die hand werk? Sekerlik nie – en veral nie as dit nogmaals oor die berugte
“marksentiment” gaan nie. Eerder as om te gesels oor die gevare wat ’n skielike
kapitaalvlug vir Suid-Afrika sal inhou, of ’n val in die huidige fabelagtig hoë
kommoditeitspryse met welke winste die regering in staat is om sowat 8 miljoen
Suid-Afrikaners op welsyn te hou (sonder om veel vir hulle selfstandigheid te
doen) moet die vraag gevra word wat gedoen kan word om Suid-Afrika werklik
selfstandig te maak en ’n ekonomie en staatkundige bedeling tot stand te bring
wat werklik ’n beter lewe vir almal in die hand kan werk. Vir Die Vrye Afrikaan kan daar min
twyfel wees, soos ons al dikwels aangevoer het, dat ’n ekonomie gerig op
gemeenskapselfstandigheid eerder as groei óf herverspreiding; ’n federale
eerder as ’n sentralistiese staat; ’n veeltalige eerder as ’n eentalige land;
’n selfrespekterende eerder as ’n “wêreldklas” land (volgens die oordele van
diegene wie se eie belange altyd swaarder as Suid-Afrikaners s’n sal weeg) deel
van die antwoord is. As daar een ding is wat die opkoms van
mnr. Jacob Zuma in weerwil van al sy oortredings van die liberaal-demokratiese
kode duidelik maak, is dit dat die gesprek oor die Suid-Afrika wat moet kom,
nou eers in alle erns begin. Hierdie gesprek sal so gou moontlik gevoer moet
word, en as een van die voorwaardes daarvan vrese in die harte van tegnokrate,
winslustige beleggers en selftevrede Afro-nasionaliste ontketen, kan dit nie
skade doen nie. |