|
|||||||
|
|||||||
|
Die
FAK se amptelike standpunt “Misdaad, oorsake en wat om daaraan te doen”, sal ’n
uitgesproke Afrikaanse taalpuris en anti-plaasmoordaktivis soos Dan Roodt dalk
in die privaat laat uitroep: “FAK-ken unbelievable!” Hoekom? Omdat die artikel geen raad weet vir die
ylerbevolkte periferie: die platteland met sy voedselproduserende plase nie.
Plase en plotte het geen buurtwagte nie, want die buurman woon verder as
loopafstand. Daarom was daar betaalde kommando's, wat die staat nou nie meer
betaal nie. Afgeskaf in landsbelang, want die staat staan self nie meer sterk
op die platteland nie. Niemand sing op die platteland: "Fokofpolisiekar"
nie, want daar is nie polisiekarre wat kan nie. Met die platteland sonder
staatsmag, en nou ook sonder boerekommandomag, is dit geen vraagstuk waarom
rassegeweldsmisdade daar plaasvind nie - daar bestaan geen beskaafde monopolie
op geweld nie. Dis ’n “vryemarkstelsel” Wilde Weste, met die blanke
boere die inheemse Indiane. Waarom skryf ek hierdie brief? Want ek is soos die
skrywers van die FAK-artikel deel van die individualistiese,
neo-kapitalistiese, blanke verbruikersgemeenskap wat buurtveiligheid koop, en
my vrou en dogter binne ’n veilige buurt hou, uit vrees dat hulle daarbuite
deur barbare verkrag word. Maar die eintlike
rede: nou word ek boonop bang dat voedselproduksie op die platteland weens
misdaad nie vinnig genoeg toeneem om aan ons stedelike bevolkings se behoeftes
te voldoen nie. Indien dit gebeur, kan ons voorspel dat geweldsmisdaad in
ons stede in die volgende dekade weens skerp stygende voedselpryse sal
eskaleer, ten spyte van talle antimisdaadgemeenskapsinisiatiewe. Die ergste le dus dalk nog voor, en sonder ’n sterk en
gesagvolle staat, sal die lig gewapende bevoorregte gemeenskappe die oorlog
buite hul ommuurde woonbuurte en werkplekke verloor. Overgesetsynde: buite die Dainfern-forte sal die dood
heers, en nie die staat of gemeenskappe nie. Tensy ’n
Zuma-president tradisionele Zoeloe-dissipline afdwing soos die diktator Oliver
Cromwell, van wie Hobbes ’n apologeet was. So nie, sal ’n Tsaar Poetin of Keiser Hu eendag die wet
en orde in die mineraalryke Transvaal, en die uitvoerprovinsie Kwazulu-Natal
herstel – vir seker. – Jacob Mouw, Middelburg, Mpumalanga |