Druk   Tuisblad
Gedig: Verdrukte Afrikaan: vrae sonder antwoorde 2007-12-11
Louis du Plessis

Wíl Afrikane werklik

skuil in aandskaduwees?

Wíl Christen-Nigeriërs

Moslems snags bly vrees?

Wíl, in lank verwagte reëns

onder blits uit die lug,

die swart Soedanees

vir Arabier bly vlug?

 

Hoe kan Toetsie en Hoetoe

by Mere verweef

elkeen dans soos hy voel?

Sý storie uitleef?

Móét dakloses in Harare

voor regerings-AKs beef?

Is verdrukking deur heersers

hoe die Afrikaan wíl leef?

 

Kan ongeag CDs

wat skeephouers bring

die Zoeloe in Oeloendie

sy eie liedere sing?

Mag ondanks die dowe

verengelsende staat

Afrikaner en Tswana elk

bekende woorde praat?

 

Wié is die gemeenskappe

wat hulle nie laat stuit nie?

Was hulle nie dalk vóórtrekkers

in elke vryheidstryd nie?

Volg in die oggendson

waar Afrikanerspore gaan

daar in verwondering dalk

die vrye Afrikaan?


Lewer kommentaar op hierdie bydrae