Druk   Tuisblad
Chávez 2007-12-11

Die artikel oor Hugo Chávez in (DVA,17 Augustus 2007) van Ignaçio Ramonet verwys. Hierdie artikel is wel nie Die Vrye Afrikaan s'n nie, maar ’n vertaling uit Le Monde diplomatique, maar die feit dat dit geplaas is, en uitsprake deur u redakteur by ’n onlangse konferensie in Orania laat blyk dat Die Vrye Afrikaan wel met die inhoud van die artikel saamstem.

Of Hugo Chávez ’n held of ’n skurk is, hang natuurlik van ’n mens se eie politieke standpunt af. Vir diegene wat neo-marxisties en anti-Amerikaans ingesteld is, sal hy vir seker ’n held wees. Maar die volgende behoort ’n mens te laat wonder of Chávez werklik verdien om hoegenaamd as nuwe ikoon van wie ook al gebruik te word:

* Chávez is nie ’n demokraat nie. Hy was reeds in 1992 die kop van ’n mislukte staatsgreep en was in die tronk. Die feit dat hy later met ’n meerderheid verkies is maak van hom nog nie ’n demokraat nie. Ook Robert Mugabe (en, as u dan wil, sonder om die vergelyking te ver te voer, Adolf Hitler) is demokraties as leiers verkose. Chávez se huidige bestuurstyl en optrede word egter as diktatoriaal bestempel.

* Chávez en Venezuela is nie die klein Dawid wat deur die Goliat VSA geboelie word nie. Venezuela is danksy sy olierykdom welvarend en gebruik dit weereens om die propagandaveldtog teen die VSA en die Weste aan te vuur. Hy staan ook beslis nie alleen nie, met ander Derde-Wêreldleiers, Rusland, China, Europese en Amerikaanse linkses aan sy kant.

* Aan jou vriende sal jy geken word. Chávez se vriende is berugte diktators en verdrukkers, soos Fidel Castro van Kuba, Ahmedinejad van Iran, Robert Mugabe van Zimbabwe, wat hy blykbaar sy broeders noem en wat soos hy besig is met die gunstelingspeletjie van Derde-Wêreldleiers: Die bestryding van die "kapitalistiese, imperialistiese, rassistiese satan Amerika", soos hul politieke vader, die Sowjet-Unie, hulle geleer het.

* Of Chávez werklik so baie vir die armes doen, kan bevraagteken word. Sy stelsel van sosialisme wat hy nou met hoë spoed in Venezuela invoer, het nog nooit êrens in die wêreld vir enige iemand gehelp behalwe vir ’n nuwe politieke elite nie. Die armes mag aanvanklik bevoordeel word deur herverdeling, maar kry later die swaarste wanneer die land weens sosialistise wanbestuur in duie stort. Ons wag nog vir die een land wat sedert die instelling van sosialisme as ekonomiese model aan die begin van die 20ste eeu ’n sukses is.

Nog ’n aanmerking oor Ramonet se artikel: As daar dan volgens hom ’n haatveldtog teen Chávez deur Bush se magte aan die gang is, dan wonder ek hoekom ’n mens nooit iets positief oor Bush in dieselfde media lees wat sleg oor Chávez praat nie.

Laastens, as die wêreld dan ’n politieke leier uit Suid-Amerika soek wat bewonderenswaardig is, dan moet hulle Alvaro Uribe van Colombia kies: hy het dwelmhandel, geweldsmisdaad, terrorisme en insurgensie suksesvol beveg en ’n mate van veiligheid en stabiliteit na een van die mees onsekere en gevaarlike lande ter wêreld gebring. Bonoop het Colombia se ekonomie vorentoe gegaan en is korrupsie beveg. Ook die armes het daarvan geprofiteer, heel waarskynlik meer as van Chávez se sosialisme. Maar Uribe se suksesse sal natuurlik verswyg word deur die media, want hy is ’n bondgenoot van George Bush.

– SM Biehl, Orania


Lewer kommentaar op hierdie bydrae