|
|||||||
|
|||||||
|
Die
artikel oor Hugo Chávez in (DVA,17 Augustus 2007) van Ignaçio Ramonet
verwys. Hierdie artikel is wel nie Die Vrye Afrikaan s'n nie, maar ’n
vertaling uit Le Monde diplomatique, maar die feit dat dit geplaas is,
en uitsprake deur u redakteur by ’n onlangse konferensie in Orania laat blyk
dat Die Vrye Afrikaan wel met die inhoud van die artikel saamstem. Of Hugo Chávez ’n held of ’n skurk is, hang natuurlik van
’n mens se eie politieke standpunt af. Vir diegene wat neo-marxisties en
anti-Amerikaans ingesteld is, sal hy vir seker ’n held wees. Maar die volgende
behoort ’n mens te laat wonder of Chávez werklik verdien om hoegenaamd as nuwe
ikoon van wie ook al gebruik te word: *
Chávez en Venezuela is nie die klein Dawid wat deur die Goliat VSA geboelie
word nie. Venezuela is danksy sy olierykdom welvarend en gebruik dit weereens
om die propagandaveldtog teen die VSA en die Weste aan te vuur. Hy staan ook
beslis nie alleen nie, met ander Derde-Wêreldleiers, Rusland, China, Europese
en Amerikaanse linkses aan sy kant. *
Aan jou vriende sal jy geken word. Chávez se vriende is berugte diktators en
verdrukkers, soos Fidel Castro van Kuba, Ahmedinejad van Iran, Robert Mugabe
van Zimbabwe, wat hy blykbaar sy broeders noem en wat soos hy besig is met die
gunstelingspeletjie van Derde-Wêreldleiers: Die bestryding van die
"kapitalistiese, imperialistiese, rassistiese satan Amerika", soos
hul politieke vader, die Sowjet-Unie, hulle geleer het. * Of
Chávez werklik so baie vir die armes doen, kan bevraagteken word. Sy stelsel
van sosialisme wat hy nou met hoë spoed in Venezuela invoer, het nog nooit
êrens in die wêreld vir enige iemand gehelp behalwe vir ’n nuwe politieke elite
nie. Die armes mag aanvanklik bevoordeel word deur herverdeling, maar kry later
die swaarste wanneer die land weens sosialistise wanbestuur in duie stort. Ons
wag nog vir die een land wat sedert die instelling van sosialisme as ekonomiese
model aan die begin van die 20ste eeu ’n sukses is. Nog ’n aanmerking oor Ramonet se artikel: As daar dan
volgens hom ’n haatveldtog teen Chávez deur Bush se magte aan die gang is, dan
wonder ek hoekom ’n mens nooit iets positief oor Bush in dieselfde media lees
wat sleg oor Chávez praat nie. Laastens, as die wêreld dan ’n politieke leier uit
Suid-Amerika soek wat bewonderenswaardig is, dan moet hulle Alvaro Uribe van
Colombia kies: hy het dwelmhandel, geweldsmisdaad, terrorisme en insurgensie
suksesvol beveg en ’n mate van veiligheid en stabiliteit na een van die mees
onsekere en gevaarlike lande ter wêreld gebring. Bonoop het Colombia se
ekonomie vorentoe gegaan en is korrupsie beveg. Ook die armes het daarvan
geprofiteer, heel waarskynlik meer as van Chávez se sosialisme. Maar Uribe se
suksesse sal natuurlik verswyg word deur die media, want hy is ’n bondgenoot
van George Bush. – SM
Biehl, Orania |