|
|||||||
|
|||||||
| Johann Rossouw *Redakteur en skrywer van ’n Rooi Z4 en ’n
Renaissance-kasteel (Kaapstad: Zebra Press, 2007).
Die
twee vernaamste redes waarom Suid-Afrika van strategiese geopolitieke belang
bly, is, eerstens, die verbinding wat die Kaapse seeroete tussen die Weste en
die Ooste verskaf; en, tweedens, die grondstowwe waaroor Suid-Afrika beskik en
wat van durende belang in die voortgaande modernisering van die planeet en die
risiko’s verbonde daaraan bly (wat insluit goud, platinum, uraan). As ek die woord modernisering hier
gebruik, is dit in die heersende definisie daarvan soos Bernard Stiegler dit
formuleer as “die industrialisering van alle dinge”, oftewel om alle moontlike
aspekte van die simboliese en die materiële węreld te standaardiseer en op
massaskaal te reproduseer – met voorspelbare katastrofale gevolge vir alles wat
sonderling en uniek is (en waarsonder menswees ondenkbaar is). Modernisering is ’n proses wat in sy
huidige vorm al ten minste sedert die koms van die seilskip en die boekdrukkuns
na Wes-Europa voortduur. Met die koms van hierdie tegnologieë na Wes-Europa het
dit nie net moontlik geword (met die boek) om plaaslike kulturele inhoud op ’n
baie groter skaal as voorheen plaaslik te sirkuleer nie, maar ook om dit na
ander węrelddele te neem (waarvoor die seilskip en natuurlik militęre slaankrag
wesenlik was). Daar kan min twyfel wees dat Wes-Europese
hegemonie, wat later Westerse hegemonie geword het, vandag aan die grootste
uitdagings in meer as vyf eeue blootgestel is. Moontlik die grootste van
hierdie uitdagings is afkomstig van China en Indië. Hierdie uitdaging geskied egter nie sonder
ironie nie: as dit so is dat nóg Wes-Europa, nóg die VSA vandag op dieselfde
wyse as een of twee dekades gelede hulle politieke en ekonomiese wil aan die
res van die planeet kan opdwing, dan is dit eweneens waar dat byvoorbeeld China
en Indië se uitdaging van Westerse hegemonie geskied via die toeëiening van die
einste opvatting van modernisering – die industrialisering van alle dinge – en
die aanpassing daarvan vir plaaslike toestande. Dieselfde tegnologie, dieselfde
verheerliking van ekonomiese groei, dieselfde verbruikersamelewing – om maar
enkele voorbeelde te noem – wat Westerse samelewings vandag kenmerk, kenmerk in
toenemende mate ander “ontwikkelende” samelewings, uiteraard met plaaslike
elemente vermeng. Soos Christoph Harbsmeier in sy artikel
“Globalisering en konseptuele biodiversiteit” (Die Vrye Afrikaan, 19
Oktober 2007) op briljante wyse aantoon, moet die analis van die plaaslike nie
die fout begaan om dit wat plaaslik onder invloed van elders gebeur, te probeer
verstaan in terme van konsepte van elders op so ’n manier dat hy die plaaslike
verder verteken en mistifiseer nie. Anders gestel: terwyl die heersende
moderniteit (met sy konsepte en simboliese inhoude) toenemend węreldwyd
neerslag vind, en dus ook ontleed kan word met konsepte wat oorspronklik in die
Weste ontwikkel is, moet ’n mens ook die presiese plaaslike nuanses van die
ingevoerde met jou eie konsepte probeer begryp. Teen hierdie agtergrond kan ons nou twee
dinge oor Suid-Afrika sę. Eerstens: Gegewe die geopolitieke strategiese belang
van die land, wat nou al vir meer as honderd-en-vyftig jaar (sedert die ontdekking
van goud en diamante en die rol wat die see in Brittanje se empire gespeel het)
duur, kan ons sę dat ook Suid-Afrika ’n land is waarheen die eietydse
ontwikkelinge van modernisering telkens uitgevoer is. Tweedens: hierdie uitvoerproses is nie een
waarin die belange van die meerderheid Suid-Afrikaners telkens vooropgestel is
nie, maar wel dié van die heersende magselites en hulle ondersteuningsbasisse. Dit is hierdie twee faktore wat veroorsaak
dat die Suid-Afrikaanse proses van modernisering ernstig betwis was en bly, en
deurgaans enorme spanning genereer. Want ofskoon die beloftes van vooruitgang
en opheffing nou al vir meer as honderd-en-vyftig jaar in Suid-Afrika sy
toorkrag op die Suid-Afrikaanse populus uitoefen, kom die wonderwerke van
moderniteit telkens op oneweredige basis voor. Anders gestel: nie almal kry op
dieselfde manier toegang tot die wondere van modernisering nie, en daarom baar
modernisering vir sommiges wondere en vir ander nagmerries. Die dialektiek wat hieruit voortspruit,
bly die vernaamste drywer van die Suid-Afrikaanse politiek: dieselfde
modernisering wat sommiges betower en verheerlik, vervloek en verdoem andere,
tewens die meerderheid. In die twintigste eeu was die twee
grootste bewegings wat te midde van hierdie oneweredige modernisering ontstaan
het, Afrikaner- en Afro-nasionalisme. Soos elders in “ontwikkelende” lande, wou
hierdie twee bewegings nie soseer ’n alternatief vir die heersende moderniteit
skep nie (’n sogenaamde ander moderniteit), as om dit vir sy ondersteuners
suksesvol toe te eien. In die era waartydens Afrikaner-nasionalisme die
ideologie van die Suid-Afrikaanse staat was, was ’n industriële ekonomie van
produksie die Westerse norm. Dit is dan ook waarom die groot prestasies van
Afrikaner-nasionalisme vanaf die 1930’s die voorbeelde van sy industriële
rewolusie is, wat insluit die destydse Evkom (vandag ESKOM), Yskor (vandag
verdeel tussen die Mittal-groep en Kumba Resources), die SAUK (vandag die
SABC), pos en telekommunikasie (vandag die semi-geprivatiseerde SA Poskantoor
en Telkom), en die netwerk van damme en paaie waarsonder grootskaalse
verstedeliking en die kommersiële landbou ondenkbaar sou wees. Afrikaner-nasionalisme het nie die proses
van industrialisering in Suid-Afrika begin nie – nog ’n voorbeeld van
ingevoerde moderniteit – maar dit wel dramaties versnel, in so ’n mate dat ’n
mens kan praat van Suid-Afrika se industriële rewolusie. Hierdie rewolusie was
suksesvol genoeg dat die ondersteuningsbasis van Afrikaner-nasionalisme teen
die 1960’s suksesvol in die ekonomie geďntegreer is, Afrikaans die taal van die
staat geword het en staatkundige onafhanklikheid in naam moontlik geword het.
(Ons sę ‘in naam’, aangesien Suid-Afrika se opname in die heersende vorm van
moderniteit geensins verbreek is nie, en die land ook so afhanklik soos altyd
van buitelandse kapitaal en tegnologie gebly het.) Een van die voorwaardes vir
Afrikaner-nasionalisme se industriële rewolusie was die goedkoop arbeid wat
hoofsaaklik swartmense verskaf het. Die oneweredige verdeling van rykdom en die
verdoeming van swartmense tot laer arbeidsvlakke was vrugbare teelaarde vir die
vaartversnelling van Afro-nasionalisme sedert die 1960’s. Teen die tyd wat
Afro-nasionalisme vanaf die vroeë 1990’s die heersende ideologie van die Suid-Afrikaanse
staat geword het, het die skuif van ’n industriële na ’n “hiperindustriële”
samelewing reeds in die leidende ekonomieë van die węreld plaasgevind. Die hiperindustriële samelewing is ’n term
van Bernard Stiegler, waarmee hy aangedui het dat in plaas daarvan dat die
ryker ekonomieë ’n sogenaamde post-industriële fase betree het met meer vrye
tyd, die oorgang eerder was na ’n ekonomie waarin ook “vrye tyd” en individuele
aandag in kommoditeite verander is. Stiegler wys daarop dat waar die kapitalisme
van die industriële era slegs oor produksie beheer uitgeoefen het, dit in die
hiperindustriële era beheer oor sowel produksie as verbruik uitoefen:
vir die surplusproduksie waaronder die leidende ekonomieë die afgelope dekades
gebuk gaan, moet nuwe afsetmarkte geskep word, en hierin speel die
advertensiewese ’n sleutelrol ten einde begeerte voortdurende vir nuwe produkte
te stimuleer. Hierdie ekonomieë was en is Suid-Afrika se
belangrikste handelsvennote en bly steeds belangrike kulturele verwysingspunte
vir Suid-Afrika, veral Brittanje en die VSA. En so het dit gekom dat net soos
Afrikaner-nasionalisme met sy bloeitydperk in navolging van die destydse fase
van modernisering produksie en industrialisasie as die belangrikste oogmerk
beskou het, die Afro-nasionalisme vandag sy deel vir hiperindustrialisering en
verbruik doen. In Moeletsi Mbeki se woorde het Suid-Afrika van ’n industriële
rewolusie beweeg na ’n verbruikersrewolusie. Terwyl Suid-Afrika se
vervaardigingskapasiteit geleidelik bly afneem – ofskoon dit nog staan op 16%
van die bruto binnelandse produk – het die ANC die afgelope dekade niks gedoen
om die deďndustrialisering van die land teen te werk nie. Daarenteen is alles
in die stryd gewerp om ’n verstedelikte, individualistiese swart verbruikersklas
te skep. Die aard van hierdie klas bly onder debat,
deels omdat dit steeds in wording is. Maar een van die boeiende aspekte van dié
klas tans, is dat verbruik veel belangriker as produksie vir hulle is. Om die
waarheid te sę, nadat al meer as R230 miljard tot dusver aan swart ekonomiese
bemagtiging bestee is, beheer swartmense minder as 3% van die Johannesburgse
Effektebeurs, en is hulle beheer oor produksie in Suid-Afrika weglaatbaar. Die oogmerk van hierdie opstel is nie om
op die redes vir hierdie toedrag van sake te bespiegel nie. Wat egter wel
duidelik is, is dat die aansprake van vooruitgang en ekonomiese welvaart van
die huidige regering onlosmaaklik met die enorme toename in swart verbruik is –
enorm natuurlik relatief bedoel, want vir goed 50% van swart Suid-Afrikaners,
indien nie veel meer nie, is hierdie verbruik nie beskore nie. Hoe gebrekkig
hierdie sukses ook al mag wees in terme van ekonomiese selfstandigheid en
volhoubaarheid, bly die feit van die saak dat hierdie verbruikersontploffing,
net soos in die geval van Afrikaner-nasionalistiese industrialisering, volledig
in pas met die huidige fase van die heersende opvatting van moderniteit is. Die kwessie van groeiende verbruik onder
Afrikaners en ander Westerse minderhede in die land, sal ons nie hier aan die
orde stel nie, buiten om daarop te wys dat reeds vanaf die 1970’s – met ander
woorde toe verbruik belangriker as produksie in die ekonomieë van Suid-Afrika
se belangrikste handelsvennote geword het – is die patroon ook onder hierdie
plaaslike groeperinge gevestig. Vir die huidige nasieboupoging is hierdie
patroon nie sonder ironie nie: by verstek het die groeiende verbruik onder
gegoede minderhede inderdaad die jongste fase van die heersende moderniteit
vanaf elders hierheen ingevoer en aantreklik gemaak vir diegene wat toe onder
apartheid daarvan ontsę was. Meer nog: in soverre daar hoegenaamd van ’n nasie in
Suid-Afrika sprake is, is dit hoofsaaklik gebaseer op die gedeelde leefstyl van
verbruik onder verskillende kultuurgroepe vandag in Suid-Afrika. Dit is waarom
stedelike winkelsentrums doodeenvoudig kultureel die mees diverse en
geďntegreerde plekke in die samelewing vandag is. (Waarmee ’n mens nie die fout
moet maak om te dink dié ekonomiese eenheid is voldoende om ander onderliggende
verskille en aspirasies te oorkom nie.) Kortom, as industrialisasie die leitmotief
van Suid-Afrikaanse modernisering in die vorige staatkundige bedeling was, dan
is verbruik dit onder die huidige bedeling. Maar watter fondament verskaf dit
aan die droom van moderniteit vandag? Dit is op hierdie punt wat Zygmunt Bauman
se Consuming Life (Londen: Polity Press, 2007) ’n nuttige, nee
noodsááklike verwysingspunt is. Soos ons reeds hierbo gesuggereer het, behoort
’n boek soos Bauman s’n wat veral met die Britse samelewing besig is, met die
nodige oordeelkundigheid gelees word as ons van die plaaslike wil sin maak. Byvoorbeeld: die verbruikersamelewing wat
Bauman beskryf, is onvoorstelbaar sonder die deregulering en privatisering wat
deur Margaret Thatcher vanaf die 1980’s in Brittanje ingestel is. Daarenteen
was en is privatisering ’n erg betwiste beleid in Suid-Afrika, en sou die
opkoms van die private ter plaatse nie soseer toegeskryf moet word aan die
besnoeiing van die staat nie as aan die afname van staatskapasiteit, asook aan
die wyse waarop die staat sedert 1994 ingespan is as toegang tot verbruik –
soos gedemonstreer in die uitspattige lewens van talle ministers en amptenare. Ek verwys vervolgens kortliks na vier
aspekte van Consuming Life wat ek meen kan help om insig in die
hedendaagse Suid-Afrikaanse tak van die węreldwye verbruikersamelewing te gee.
Die eerste hiervan is die definisie wat Bauman aan die verbruikersamelewing
gee. Hy wys daarop dat verbruik so oud as die
mens self is. Per slot van rekening moet jy eet, drink, klere aanskaf om te
oorleef. Maar dit is wanneer hierdie gegewe behoeftes sentraal gestel word, en
wanneer die blote vervulling van gegewe behoeftes sekondęr tot die vervulling
van nooit vervulbare en altyd meer begeertes word, wat ons die
verbruikersamelewing betree. Die objekte van begeerte word dan van kardinale
belang, en daarom beskryf Bauman die verbruikersamelewing soos volg:
“Ontmoetings van voornemende verbruikers met die voorgenome objekte van hul
verbruik neig om die vernaamste boublokke van intermenslike verhoudings wat
kortweg as ‘die samelewing van verbruikers’ bekendstaan, te word.” (p.41) Waarna Bauman nie hier eksplisiet verwys
nie, is wat JG Ballard in sy seminale tegnoroman Crash (1973) “die
enorme energie van die twintigste eeu” noem. Die enorme energie wat nie net
deur die industriële rewolusie gegenereer is nie, maar ook die energie van die
verlange na ’n ander Suid-Afrika (en die sug na selfrespek) is die rou
materiaal wat die verbruikersrewolusie vandag in Suid-Afrika voed. Om te besef
in hoe ’n mate die verhouding tussen verbruiker en begeerteobjek tiperend van
die lewe in gegoede Suid-Afrika geword het, hoef ons net te kyk na wat langs
hoofroetes binne en om stede geadverteer word, na die immergroeiende kultus van
die motor (met motorverkope as ’n populęre aanwyser van ekonomiese welstand),
na die geweldige aandag wat sport en vermaak vandag geniet. Die tweede kwessie waarna Bauman verwys,
is die oorgang vanaf ’n produksie- na ’n verbruikersamelewing. In ’n
produksiesamelewing is die uitstel van behoeftebevrediging nastrewenswaardig,
is dinge stabiel, materiale duursaam, is die verbod en die taboe belangrik,
asook skuld (ook as ’n positiewe morele kategorie). Maar in die
verbruikersamelewing word onmiddellike begeertevervulling die norm van sukses,
word die moontlikheid belangriker as die verbod, en voel ’n mens in plaas van
skuldig eerder onvoldoende (nie genoeg “jouself” nie). Nogmaals in Suid-Afrika: een van die
donker ironieë van ons samelewing is dat die stryd teen apartheid saamgeval het
met ’n produksiesamelewing en die uitstel van behoeftebevrediging – oor dekades
kon mense bly droom oor die einde van apartheid en geduldig stry. Maar wanneer
apartheid tot ’n val kom, betree die land oornag op reuse skaal die
verbruikersamelewing: begeertes word ontbondel en ontgrens, en wat voorheen
dekades geneem het, moet nou oornag gebeur. Daar kan min twyfel wees dat die
toename in geweld vandag as funksie van gefrustreerde begeertes wat nie
onmiddellik bevredig word nie, simptomaties is van die mate waartoe die
politiek en die ekonomie die verbruikersetos ten prooi geval het in
Suid-Afrika. In die derde plek fokus Bauman op wat met
die subjek, die individu, in die samelewing van verbruik gebeur. Vereensaming,
gewis; die verhouding tussen subjek en verbruiksobjek belangrik as die
verhouding met ander (buiten vir hulle erkenning oor wat ek besit en verbruik).
Die subjek word gedompel in melancholie: onder die illusie van vryheid van
keuse, móét hy deurgaans nuwe objekte kies en kán hy ook nie, want daar is te
veel, en bowendien kan dit wat hy kies nooit werklike die beloofde
begeertevervulling bring nie! Dat verbruikers as vryswewende individue
deur die mark hanteer word, beteken nie dat die verbruikersamelewing geen
kollektief het nie: “In die vloeibare (liquid) moderne samelewing van
verbruikers neig die swerm om die groep te vervang – met sy
leiers, gesagshiërargie en pikorde” (p.76). Die sekuriteit van die swerm, skryf
Bauman, spruit voort uit die feit dat daar genoeg mense is wat daaraan
deelneem, almal in dieselfde rigting vir ’n tyd lank beweeg. ‘Dis aantreklik,
want almal doen dit,’ is die rasionaal. In Suid-Afrika is die beste voorbeeld van
hierdie swermgedrag die regerende party self, wat volgens van sy eie
hoogwaardigheidsbekleërs verander het in ’n voertuig vir patronaat. En dat hy
kwalik sy eie leierskapsoorgang kan hanteer, is sprekend van die
swermmentaliteit. In die vierde plek gee Bauman aandag aan
hoe tyd in die verbruikersamelewing verander vanaf ’n lyn na ’n punt. Hiermee
is hy in ooreenstemming met ’n hele aantal denkers, waaronder Régis Debray,
Manuel Castells, Milan Kundera (wat hy ook instemmend aanhaal), Jérôme Binde,
Zaki Laďdi, en talle ander. Bauman beskryf dit as “pointillistiese tyd” waar
die “tirannie van die oomblik” vaardig is. Die spesifieke insig wat hy hieraan
verleen, setel daarin dat hy wys hoe die verbruikersamelewing deur die maniese
stimulering van begeerte en deur die dwang tot keuse die skyn van ’n
noodtoestand skep, waar alles nie net gelyktydig gebeur nie, maar alles ook nou
moet gebeur (hoe dikwels hoor ’n mens nie hierdie woorde nie?). Hy verwys na ’n
studie van Nicole Aubert onder bestuurslui, wat vertel watter beswyming en mag
hulle voel wanneer hulle in noodmodus alles so vinnig moontlik en suksesvol
klaarmaak, net om dit weer te doen! En, vra Bauman, as alles nou gedoen moet
word én nou moontlik is, watter aantrekking het die ewigheid nog vir die mens?
Waarmee hy netjies uitwys watter eie teologie die verbruikersamelewing ook
geskep het. In Suid-Afrika kan ’n mens vandag dikwels
verstom staan oor hoe vinnig dinge van relatief min belang, maar wat baie
aandag geniet, mekaar opvolg, net sodat ons dit ’n week of twee later heeltemal
vergeet het. Die ergste is die grumoorde op voorblaaie wat kom en gaan, wat
mettertyd ’n blote norm van melodrama word waarin die dood self ons koloniseer. Volgens ’n beroemde staaltjie sou ’n
Westerse diplomaat in die 1970’s aan ’n Chinese diplomaat gevra het wat dié se
opinie van die Franse Rewolusie is. Waarop die antwoord gekom het: “Dis nog te
kort gelede om nou al ’n standpunt daaroor te hę”. |