|
|||||||
|
|||||||
| Marie Benilde *Joernalis,
skrywer van On achète bien les cerveaux. La publicité et les médias,
Parys: Raisons d’agir, 2007. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw.
Volgens
die legende sou Wladimir Ilitsj Oelianov, oftewel Lenin, in Oktober 1919 besoek
afgelê het by die fisioloog, Ivan Pavlov, om vas te stel hoe dié se werk oor
gekondisioneerde reflekse kan bydra tot die vorming van die “nuwe mens”,
waarmee die Bolsjewiste destyds besig was. Die wetenskaplike sou die regime se
propaganda van diens kon wees deur met die aanwending van eksterne stimuli,
instinkmatige drange te vereenselwig met die werktuiglike handelinge van
kollektiewe transformasie. In werklikheid was Pavlov van geen hulp
vir die Bolsjewiste nie, maar hierdie ware óf valse staaltjie illustreer ’n
durende twintigste-eeuse fantasie, naamlik om deur manipulasie van die
onderbewussyn besit van mense se gees te neem. Dít sou die moontlikheid skep om
klaar te speel met alle vorme van weerstand wat die eenvoudige gebruik van die
kritiese rede kan voortbring. Sedertdien word propaganda as doeltreffend beskou
indien dit begryp dat ’n boodskap des te beter geassimileer word indien sy
ontvanger sielkundig gekondisioneer word om dit in te neem en hom daarmee te
vereenselwig. Die demokratiese samelewings het die woord
propaganda uit hul gemeenskaplike woordeskat verban en vir totalitêre regimes
gereserveer. Tog toon die verkenning van die brein vir handelsdoeleindes en die
massamanipulasie wat daaruit voortspruit dat die verbruikersamelewing nie so
ver daarvan verwyderd is nie. Ons onthou die berugte uitspraak van mnr. Patrick
Le Lay, hoof van die Franse TV-kanaal TF1, in 2004 toe hy erken het dat sy
kanaal daarna streef om aan Coca-Cola “beskikbare tyd van die menslike brein”
te verkoop. Die voorkeur vir hierdie handelsmerk
(Coca-Cola) wat ’n voorkeurvennoot van TF1 is, soos blyk uit die meer as 250
uitsendings van ’n promosievideo ’n jaar tevore, is geensins toevallig nie. In
die somer van 2003 het Read Montague, ’n neuroloog verbonde aan die Baylor
Mediese Universiteit van Houston, Texas in die VSA bewys dat waar ’n blinde
proetoets gunstig vir sy mededinger, Pepsi, was, dit net mooi omgeswaai het
wanneer die koeldrank duidelik as Coca-Cola geïdentifiseer is. Dan het die
deelnemers aan die eksperiment verklaar dat hulle die soda in die rooi en wit
houer verkies. So is die superioriteit bewys van een van
die handelsmerke beskou as ’n topskepping van handelsmerking (branding),
hierdie tegniek wat mik om ’n logo op maksimum steunvlakke ten toon te stel,
asook om dit in te glip by die inhoud van rolprente of TV-reekse. Ten einde die
verband tussen die beeld van die handelsmerk en die stimulasie van die brein te
trek, het die wetenskaplike gebruik gemaak van ’n masjien wat tot nog toe vir
mediese doeleindes aangewend is om byvoorbeeld breingewasse of -skade op te spoor,
naamlik magnetieseresonansiebeelding (MRB). Deur die breinaktiwiteit van sy pasiënte
te volg, het Montague waargeneem dat die presiese breinarea wat by die
waarneming van ’n handelsmerk uitgelok is – die prefrontale korteks – ’n appèl
tot die geheue rig en ’n belangrike rol in die kognitiewe prosesse speel.
Daarenteen gebruik die blinde proetoets die breinstreek genaamd die “ventrale
putamen”, wat met die persepsie van genot saamhang. In April 2004 het
Baylor-universiteit in Houston die eerste wêreldsimposium aan die toepassing
van breinbeelding op bemarking gewy. Drie jaar vantevore het die
Brighthouse-instituut, by Coca-Cola se hoofkwartier in Atlanta deur die
advertensieman Joey Reiman gestig, ’n groep kundiges byeenbring wat getaak is
met die kommersialisering van insigte ontleen aan die neurowetenskappe. Die
instituut se wetenskapdirekteur, mnr. Clint Kilts, het tot dieselfde
gevolgtrekking as sy eweknie in Houston geraak deur die breinsone wat op
advertensiebeelde reageer in die prefrontale korteks af te baken. Maar hy het ook waargeneem dat hierdie
reaksie soveel kragtiger is omdat die subjek hom met die beeld van die produk
identifiseer en getempteer is om te sê “dis presies soos ek” (1). Die beroemde
sleutelstreek van neurobemarking word inderwaarheid verbind met die selfbeeld
en ’n mens se intieme selfkennis – dit is waarom pasiënte by wie die
prefrontale korteks in ’n ongeluk beseer word dikwels aan
persoonlikheidsversteurings ly. Soos Annette Schäfer dit in die Franse
tydskrif Brein & Psigo (Cerveau & Psycho) verduidelik “is
hierdie sone die handelsenjin. Die prefrontale korteks laat ons hou van dit
waarvan ander mense hou. Om daarin te slaag om dit te stimuleer, kan dus die
voorste doelwit van ’n volmaakte advertensieveldtog wees” (2). Dit is ook vir
“neurobemarkers” die witgoud van die volmaakte alchemie: die operasie wat
daaruit bestaan om alle liefde vir die self as self – narcisme – te verander in
liefde vir die self as ander: ’n advertensieteiken. Volgens Olivier Oullier, ’n navorser in
breinwetenskappe aan die Universiteit van Florida Atlantic, bestaan daar tans
wêreldwyd sowat ’n honderd ondernemings wat die tegnieke van neurobemarking
gebruik (3). Hulle handhaaf nietemin diskresie oor hulle eksperimente, uit
vrees vir groot openbare teenstand. In 2003 het een van hulle,
DaimlerChrysler, dit aan die hospitaalsentrum van Ulm, Duitsland opgedra om die
breine te skandeer van ’n dosyn mans wat beelde van luukse voertuie sien. Dit
is hoe die belangrikheid van die “akkumbensnukleus”, wat met die gevoel van
beloning verband hou, bepaal is. Hieruit het geblyk dat die objek van
verbruik geassimileer kan word met ’n objek van begeerte deur ’n proses van
personifikasie. “Wanneer hulle na die motors kyk, herinner dit hulle aan
gesigte, met die hoofligte wat ’n bietjie na oë lyk,” het Henrik Walter, ’n
psigiater van die sentrum, oor hierdie ietwat uitsonderlike “pasiënte” gesê
(4). Hierin het adverteerders die bevestiging
van ’n vermoede gesien: in advertensies moet die instinkiewe korrelasie tussen
seksuele begeerte en die drang om te koop, versterk word. “Die verbruiker moet
die handelsmerk kan voel en soos ’n minnaar daardeur aangegryp word,” het die
uitvoerende hoof van die advertensiemaatskappy, Saatchi & Saatchi, mnr.
Kevin Roberts sonder grappies gesê (5). Moet sulke pogings tot die wetenskaplike
bevestiging van reklame ernstig opgeneem word? Die feit van die saak is dat
hulle in die oë van die professioneles die meriete het dat hulle nog groter
gesag verleen aan die verspreiding van advertensieboodskappe in die media op
die tydstip dat die internet dit klik vir klik moontlik maak om die gedrag van
die verbruiker na te spoor. So word neurobemarking dan gebore uit die
ontmoeting tussen nyweraars wat sorg dra om hulle kommunikasiebesteding intern
te regverdig, advertensiemaatskappye wat begerig is om hulle bydrae te
regverdig (BBDO, ’n Düsseldorfse advertensiemaatskappy werk in hierdie verband
aan die konsep van “breinhandelsmerking”, wat probeer vasstel hoe sekere
handelsmerke deel word van die brein se episodiese geheue) en groot
mediasektore wat besorg is oor die groeiende mag van nuwe kommunikasievektore. TF1 is nog nie besig met
skanderingseksperimente in die laboratorium nie. Maar die Franse Nasionale
Vereniging van TV-reklame, onder voorsitterskap van me. Claude Cohen (wat ook
die hoof van TF1 se reklameafdeling is) is in die jongste tyd geïnteresseerd in
wat hulle die “onbewuste onthoumeganismes” noem. Met behulp van die private instituut,
Impact Mémoire, wat hom daarop toespits om voordeel te trek uit “funksionele
breinbeeldingstegnieke” het hulle op sowat honderd-en-twintig mense ’n
eksperiment uitgevoer onder die voorwendsel om dié se visuele waaksaamheid te
toets. Terwyl die proefkonyne hulle ingespan het
om klein groen blokkies op hulle rekenaarskerms raak te sien, is advertensies
onophoudelik vertoon op ’n ander prominent geplaaste skerm. Dieselfde
eksperiment is ook met radio-advertensies en advertensieplakkate uitgevoer. Heel logies was dit die mediavorm wat
beide klank en beeld verbind wat die beste telling van die onbewuste
memorisering van advertensieboodskappe behaal het. Dit is ’n soort sirkulêre
logika wat ’n mens kon laat glimlag as dit nie verweef was met ’n
skynwetenskaplike diskoers met vele gevolge nie. In November 2003, tydens ’n “Reklameweek”,
het mnr. Bruno Poyet, medestigter van Impact Mémoire, dit saamgevat. Volgens
hom “is aandag nodig vir goeie geheueretensie. ’n Sterk emosionele konnotasie
verskerp die aandag. ’n Beduidende emosionele lading genereer die afskeiding
van sekere stowwe deur die amigdala, wat weer memorisering begunstig” (6). Dit is hierdie “emosionele” konteks,
gunstig vir die reklame gerig op die huisvrou onder vyftig, wat TF1 met sy
programme probeer skep. Dit het nog in November 2003 gebeur dat die kanaal in
die spesialispers ’n aankondiging geplaas het wat sy advertensiebane opgehemel
het, en waarin ’n brein omring deur ’n videoband met die volgende veelseggende
kommentaar voorgekom het: “´n Flits geplaas in die middel van ’n TF1-program behaal
23% meer memorisering.” Die neuroloog Bernard Croisile, wat ook ’n
medestigter van Impact Mémoire is, wys daarop dat ofskoon daar “geen studie
bestaan wat bewys dat die inhoud van ’n uitsending die respons op die
daaropvolgende advertensies kondisioneer nie … kan ons nietemin sê dat wanneer
’n mens in ’n positiewe emosionele situasie verkeer, jy die positiewe elemente
beter gaan behou, net soos depressiewe mense negatiewe inligting beter gaan
assimileer” (7). Dit gaan dus daaroor om aan die TV-kyker sy
dosis aangename emosie te gee voor ’n skouspel van suiwer vermaak of na ’n
TV-nuusprogram, waar die emosionele lading van die beleefde ervaring meer tel
as die “neerdrukkende” effek van ’n kritiese diskoers. Die implisering van die breinwetenskappe
of sy verwante in die advertensiebedryf het dus goeie vooruitsigte. In Maart
2007 het die wêreldreklameleier, Omnicom, die mediakonsultasie-agentskap PHD in
Frankryk bekendgestel. Hierdie netwerk, wat in die Verenigde Koninkryk ontstaan
het, steun op “neurobeplanningsagteware” wat verfyn is op grond van MRB-studies
van die firma Neurosense. Dit maak daarop aanspraak dat dit vir
handelsmerke kan aantoon watter breinsones gestimuleer moet word in die lig van
hulle veldtogoogmerke en die mediavorme wat gebruik word. Op sy beurt het
Impact Mémoire dieselfde jaar opgetree vir die advertensieregie van die
Lagardère-groep ten einde adverteerders in staat te stel om die memorisering
van hulle veldtogte te optimaliseer met behulp van die kombinasie van
verskillende mediavorme en die herhaling van die boodskappe. Die intieme kennis van die verbruiker se
brein moedig noodwendig ondernemings en hulle advertensieagentskappe aan om
selfs buite die ruimtes op te tree wat normaalweg vir kommunikasie aan hulle
afgestaan word. Die ontvanklikheidsvoorwaardes van ’n handelsmerk verhoog
inderwaarheid na gelang die “teiken” nie werklik bewus is daarvan dat hy
geteiken word nie. Dít verklaar die opkoms van “advermaak” (advertainment),
oftewel die kruising van reklame en vermaak waarvan die onlangse wedstryd van
Frankryk en Argentinië in die Rugbywêreldbeker ’n goeie voorbeeld is. Jong
modelle in onderklere het begin dans op die pawiljoen onder die belangstellende
oog van TF1 se kameras: dit was ’n sogenaamde skepping van die advertensieagentskap
Fred-Farid-Lambert, ’n filiaal van die Bolloré-groep, vir die Dim-handelsmerk. Wat die oudiovisuele terrein betref, blom
die plasing van produkte ook, soos blyk uit die verskynsel van omvattende
kontrakte wat vervaardigers, verspreiders en adverteerders verbind. In 2001 het
Proctor & Gamble, vervaardiger van skoonmaakmiddels, ’n ooreenkoms van 500
miljoen dollar gesluit met die Viacom-groep en sy TV-kanaal CBS om sy produkte
by laasgenoemde se produksies in te sluit. Vier jaar later was dit Volkswagen se
beurt om 200 miljoen dollar te belê in die plasing van sy voertuie in rolprente
van Universal Studios en sy TV-kanaal NBC. In 2005 het die Franse filiaal van
die bemarkingskommunikasiegroep, Aegis, ook Carat Sponsorship Entertainment
geskep om reklame in programme te integreer en groter aanvaarding deur die
verbruiker te bewerkstellig. In 2007 is hulle gevolg deur die filiaal Havas
Entertainment. Ofskoon die Franse Oudiovisuele
Gesagsowerheid nog veronderstel is om toesig te hou oor die verbod op alle
klandestiene reklame, beloof die bekragtiging van die Europese direktief
“Televisie sonder grense” in 2008 in Franse wetgewing om produkplasing op die
TV-skerm eens en vir altyd, soos in die VSA, toe te laat. Die daaglikse perk
van twaalf minute se advertensies elke uur behoort eweneens verslap te word ten
einde groter reklameverspreiding in spitskyktye te verseker. Dan is daar ook nog programme in Frankryk
soos “Huisvraag” (op die kanaal France 5) of “By u huis” (op TF1) wat hulle
bestaan uitsluitlik te danke het aan die verskyning van die Leroy
Merlin-handelsmerk in produksies. Uiteraard word die onbewuste van die kyker
nie openlik opgeëis nie. Maar agter die TV-kyker is dit steeds die verbruiker
wat in die visier is. Om Pavloviaanse werktuiglike reaksies van kollektiewe
transformasie te verseker? Nee, dit gaan slegs om die banale stimulering van
verkope … __________ (1) Kyk “There is a sucker born in every medial
prefontal cortex”, The New York Times Magazine, 26 Oktober 2003. (2) “Vous avez dit neuromarketing?”, Cerveau
& Psycho, no.7, Parys, September-November 2007. (3) Kyk “Neuromarketing : les bases d’une
discipline nouvelle”, 20 Februarie 2007, www.journaldunet.com (4) The New York Times Magazine, op.cit. (5) Stratégies,
Issy-les-Moulineaux, 11 November 2004. (6) Kyk die webwerf van die Franse Vereniging van
Kommunikasiekonsultantagentskappe, www.aacc.fr (7) Stratégies,
Issy-les-Moulineaux, 7 Oktober 2004. |