|
|||||||
|
|||||||
|
Die Vrye Afrikaan gesels met Johann Rossouw
oor sy debuutwerk van filofiksie, ’n Rooi Z4 en ’n Renaissance-kasteel
(Kaapstad: Zebra Press, R123).
Die Vrye Afrikaan: Jy
vertel baie van jou werk in die onderskrifte. So noem jy jou werk ’n
“filofiksie” sowel as ’n “mikrogeskiedenis” van Pretoria. Die woord
“filofiksie” verwys uiteraard na sowel die filosofie as die fiktiewe. Beide is
tegelyk in jou werk aanwesig. Maar in watter verhouding tree dié twee kragte in
jou werk? Johann Rossouw: Sowel filosofie as fiksie gaan vir my
oor insig in die werklikheid, insig in wat gebeur, hier en nou. Altans, so het
ek dit al oor meer as twintig jaar beleef in die groot werke van filosofie en
fiksie wat my aangegryp het. In so ’n mate dat ek self nog altyd die impuls
voel om beide te probeer skep. Tegelyk het die meeste van my pogings om die
langer “konvensionele” en “suiwer” werk van filosofie óf fiksie te skryf, tot
dusver nie geluk nie. Vir my was die oplossing om die raad van ’n ou mentor van
my te volg, naamlik om nie tussen die twee te probeer kies nie. So het ek gekom
by “filofiksie”, ’n poging om van sowel die konseptuele as die verhalende
gebruik te maak. DVA: Die gelyktydige
aanwesigheid van die filosofie en die literêre is natuurlik ’n verskynsel eie
aan die postmodernisme. Is jou werk ’n tipiese postmoderne werk? Anders
geformuleer: In die tradisie van die Westerse denke was die filosofie altyd as
belangriker as die fiktiewe geag. Waarmee nie gesê word dat die tradisie, soos
wat dikwels beweer word, die fiktiewe ontken het nie. Die begrip het egter ’n
voorrang bo die metafoor geniet. Verteenwoordig jou werk teen die agtergrond
hiervan ’n breuk met die tradisie? JR: Gegewe die reuse nawerking van die Griekse, Joodse,
Romeinse en Christelike verhaleskat, is ek nie so seker dat die filosofie altyd
in die Westerse tradisie belangriker as die fiktiewe geag was nie. Ek sou
eerder aanvoer dat die filosofiese en die fiktiewe as invalshoeke op die
werklikheid nog altyd belangrik was, byvoorbeeld die aanwesigheid van sowel Spreuke
en Prediker enersyds as Genesis of Christus se gelykenisse
andersyds in Die Bybel. Maar dan is dit ook so dat die tradisie so groot
is, en ek werklik so onkundig daaroor (ten spyte van meer as 25 jaar se
besigwees met die filosofie!) dat ek versigtig is vir dié debat. Ek
voel my op vaster grond om gewoon te sê dat gegewe die vervloeiing van die
filosofiese en die fiktiewe in ons alledaagse leefwêreld vandag, ek die
samespanning tussen die twee benaderings as een moontlike strategie in die
blywende poging om te verstaan wat gebeur, beskou. DVA: Nog steeds by die
onderskrifte: Jy verwys ook daarin na die feit dat jou werk ’n mikrogeskiedenis
van Pretoria is. Laasgenoemde is ’n geskiedenis wat strek vanaf sy stigting tot
en met die epog van die sogenaamde “gnossie”. Maar wat beteken die woord
“gnossie”? Dit roep by jou bewustelik herinneringe op van die historiese
gnostiek, dit wil sê van dié beweging in die godsdiensgeskiedenis wat daarvoor
bekend is dat dit ’n dualisme tussen dinge soos die lyflike en die geestelike,
die aardse en die hemelse raakgesien het. Is die “gnossie” van Pretoria ’n
dualis? Waarom? JR: Ek is nie so seker of hy ’n dualis is nie! Dit wil my
voorkom asof in vroeëre vorme van die dualisme, byvoorbeeld by Descartes met sy
onderskeid tussen gees en liggaam, daar minstens ’n baie duidelike bewustheid
en verrekening van die twee was, alsy die een dan oorwegend positief en die
ander oorwegend negatief beskou. Sonder hierdie positiewe en negatiewe van wat
as apart beskou is, sou daar ook nie pogings kon wees om die twee weer te
integreer nie. Maar
in die geval van die Pretoriase gnossie, altans soos ek hulle meemaak, is die
lyf en die aarde eintlik volledig onbewus. Wat natuurlik veroorsaak dat die
gaping wat daarmee gelaat word, met ’n eie materiële werklikheid gevul word.
Dit lyk vir my asof die afskeid van die liggaam en die aarde nie net onmoontlik
is nie, maar onder meer kan lei tot materialisme! Dis juis as ek die aardse
misken, wat ek my tot dinge as plaasvervanger vir die aarde wend! DVA: Die woord “gnossie” verwys
nie net na ’n spesie wat ’n mens in Pretoria aantref nie. Dit verwys ook na ’n
toestand wat die Afrikaner as sodanig, die sogenaamde post-yuppie Afrikaner,
kenmerk. Wat is die kenmerke van dié toestand? JR: Volgens my indruk het die mislukking van
Afrikaner-nasionalisme en die heengaan van apartheid ten diepste gelei tot ’n
soort metafisiese krisis. Aan die anderkant voltrek hierdie krisis hom te midde
van volgehou tegnologiese vooruitgang en toenemende welvaart vir die
Afrikaner-elite, veral die beroepslui en die ondernemers (wat natuurlik nie
alle Afrikaners is nie!). Op die verlies aan ’n bekende, beheerde werklikheid,
lyk dit my, het baie Afrikaners gereageer deur via ekonomiese welvaart en
tegnologie vir hulle ’n privaat, oënskynlik beheersde eie werklikheid te skep.
Die werklikheid is, kortom, geprivatiseer! Nie net geprivatiseer nie, maar ook
gesanitiseer. Dit is waarom skoon interieurs vandag so gewild is, en plekke
soos winkelsentrums, gimnasiums, charismatiese ouditoriums, ens. Maar
in die mate wat ek saam met Plato stem dat die mens nie sonder die goeie, die
ware en die skone kan bestaan nie, dink ek dat die poging om ’n alternatiewe
werklikheid via die manipulering van die stoflike te skep, Afrikaners wat dié
weg stap tot ’n vae onbehae, ’n knaende leegheid, verdoem. Hierop word dan
gereageer met die sug na ekstase. Vandaar die sentrale rol van soveel vorme van
bedwelming: die groot orgasme, die spinklas in die gimnasium, die
emosionele opwelling in die charismatiese teater, die hele leefstylbesigheid.
Sport het natuurlik ook sy plek hierin. DVA: Een van die temas wat
dwarsdeur die werk aanwesig is, is die tema van die begeerte. Jy verwys in
hierdie konteks onder meer na die sogenaamde “oorgesonde liggaam” wat
(spektrosferies) ’n “spookgees” huisves. Ten minste twee vrae lê hierin
opgesluit: Eerstens, hier is duidelik van iets soos ’n ontsporing van die
begeerte sprake. Maar wat is die aard van dié ontsporing? Tweedens,
jou negatiewe oordeel oor die hedendaagse begeerte vooronderstel ’n norm op
grond waarvan jou dié oordeel kan fel. Maar wat is dié norm? Op grond waarvan
sou jy die begeerte van die gnossie as ’n ontsporing kan beoordeel? JR: Sover die “geskiedenis van begeerte” aan my bekend is,
lyk dit vir my asof begeerte binne die groot gemeenskappe van die geskiedenis
soos Athene, Rome, die vroeë Christene, die Middeleeuse kloosters, die
Boeddhistiese sangha’s, en dies meer altyd ’n middel tot ’n hoër doel was. Dit
is wanneer begeerte ons na die iets meers trek, wat dit die bron van die
hoogste kan word – en wat dit ook ’n krag van lewe en skepping is. Maar
wanneer die begeerte van hierdie hoër doel ontkoppel word, wanneer dit ontgrens
word en as’t ware sy eie doel word, dan word alles wat in die pad van die
begeerte staan, die vyand. En dit is wat vandag met die gnossies gebeur: omdat
hulle, afgesny van die tradisie en die instellings wat ons verhouding met die
hoëre reguleer en bemiddel, hulle nie werklik met die hoëre besig hou nie, word
begeerte die bron van die hoëre, in plaas van die brug na die
hoëre. En dit is presies die ontsporing van begeerte wat so dominant in ons tyd
geword het. DVA: Is ’n anderkant die
“spektrosfeer” (dit wil sê die videosfeer, die imagologie, ensovoorts)
moontlik? Jy wys baie bewustelik dié moontlikheid af. Volgens jou kan ons nie
anderkant die spektrosfeer tree nie. Nogtans aanvaar jy ook nie sonder meer die
greep van die spektrosfeer op ons nie. Daarom onderskei jy tussen iets soos ’n
epog wat óf deur “besielde spoke” óf deur “siellose spoke” besoek word. Jy kies
vir eersgenoemde met die hoop om jou so tog van ’n bepaalde implikasie van die
spektrosfeer los te maak. My vraag is egter op grond waarvan jy dié onderskeid
kan aanlê. Kan jy hoegenaamd tussen dié twee vorme van spektrosfere onderskei
as jy nie reeds by voorbaat oor ’n norm beskik wat die greep daarvan ontsnap
nie? Jou onderskeid vooronderstel immers dat jy die spektrosfeer as’t ware van
buite-af kan beskou. Maar as dit so is (en ek kan kwalik sien dat dit anders
kan wees), beteken dit dat daar in teenstelling met wat jy sê tog iets soos ’n
anderkant van die spektrosfeer moontlik is? JR: As so ’n “anderkant” nie moontlik was nie, sou ek nie
die boek kon skryf nie! My onderskeid tussen “siellose spoke” en “besielde
spoke” is ’n poging om te sê dat waar die lewelose (materiële dinge) vandag so
dominant is, ons ’n uitweg kan vind deur juis na die dooies, na die geheue, die
tradisie, die geskiedenis terug te keer. Ek dink byvoorbeeld dat ons era een
van oorgang en verval soortgelyk aan die einde van die Romeinse Ryk, of aan die
einde van die hoë Middeleeue is. Maar tegelyk put ek inspirasie uit die monnike
in die kloosters wat geduldig, eeue gelede, besig was met die transkripsie en
vertaling van die werk van mense wat weer eeue voor hulle geleef het! Uit die
oudste altyd iets nuuts, sou ek wou sê. En dit is die spoke waarmee ek my graag
omring. |