|
|||||||
|
|||||||
| Redakteursbrief Geagte
leser, Twee
sonderlinge figure wat die droom van ’n ander wêreld in handel en wandel
beliggaam het, en ook gereelde medewerkers van Die Vrye Afrikaan was,
het ons in die afgelope weke ontval: die gemeenskapsekonome Margaret Legum en
Johan van Zyl, wat albei in hulle sewentigs was. Ter nagedagtenis aan hierdie
groot figure en vriende van ons, word hierdie uitgawe se dossier, “Die wêreld
van verbruik”, aan Margaret en Johan opgedra, met ons beste wense aan hulle
geliefdes. As u nog nie ingeteken het op Die Vrye
Afrikaan nie, kan u steeds. Intekening vir die papieruitgawe binnelands kos
R30 per uitgawe, terwyl intekening op die elektroniese uitgawe R20 per maand
kos, wat ook help om die blad se webwerf oop te hou. So nie, kan u vandag nog
aansluit as lid van die FAK teen R30 per maand, wat nie net gratis ontvangs van
Die Vrye Afrikaan insluit nie, maar ook voorkeurtoegang tot die FAK se
openbare standpunte, mediaverklarings, byeenkomste en aksies. Skakel ons
sekretaresse, Sarie Marais, by 012-301-1777, of stuur ’n e-pos na
sariem@fak.org.za. Maar onthou dat die FAK-kantoor sluit op 13 Desember en
heropen op 14 Januarie. Hiermee dan ook ons beste wense vir 2008. Johann
Rossouw Redakteur Misdaad Die
FAK se amptelike standpunt “Misdaad, oorsake en wat om daaraan te doen”, sal ’n
uitgesproke Afrikaanse taalpuris en anti-plaasmoordaktivis soos Dan Roodt dalk
in die privaat laat uitroep: “FAK-ken unbelievable!” Hoekom? Omdat die artikel geen raad weet vir die
ylerbevolkte periferie: die platteland met sy voedselproduserende plase nie.
Plase en plotte het geen buurtwagte nie, want die buurman woon verder as
loopafstand. Daarom was daar betaalde kommando's, wat die staat nou nie meer
betaal nie. Afgeskaf in landsbelang, want die staat staan self nie meer sterk
op die platteland nie. Niemand sing op die platteland: "Fokofpolisiekar"
nie, want daar is nie polisiekarre wat kan nie. Met die platteland sonder
staatsmag, en nou ook sonder boerekommandomag, is dit geen vraagstuk waarom
rassegeweldsmisdade daar plaasvind nie - daar bestaan geen beskaafde monopolie
op geweld nie. Dis ’n “vryemarkstelsel” Wilde Weste, met die blanke
boere die inheemse Indiane. Waarom skryf ek hierdie brief? Want ek is soos die
skrywers van die FAK-artikel deel van die individualistiese,
neo-kapitalistiese, blanke verbruikersgemeenskap wat buurtveiligheid koop, en
my vrou en dogter binne ’n veilige buurt hou, uit vrees dat hulle daarbuite
deur barbare verkrag word. Maar die eintlike
rede: nou word ek boonop bang dat voedselproduksie op die platteland weens
misdaad nie vinnig genoeg toeneem om aan ons stedelike bevolkings se behoeftes
te voldoen nie. Indien dit gebeur, kan ons voorspel dat geweldsmisdaad in
ons stede in die volgende dekade weens skerp stygende voedselpryse sal
eskaleer, ten spyte van talle antimisdaadgemeenskapsinisiatiewe. Die ergste le dus dalk nog voor, en sonder ’n sterk en
gesagvolle staat, sal die lig gewapende bevoorregte gemeenskappe die oorlog
buite hul ommuurde woonbuurte en werkplekke verloor. Overgesetsynde: buite die Dainfern-forte sal die dood
heers, en nie die staat of gemeenskappe nie. Tensy ’n
Zuma-president tradisionele Zoeloe-dissipline afdwing soos die diktator Oliver
Cromwell, van wie Hobbes ’n apologeet was. So nie, sal ’n Tsaar Poetin of Keiser Hu eendag die wet
en orde in die mineraalryke Transvaal, en die uitvoerprovinsie Kwazulu-Natal
herstel – vir seker. – Jacob Mouw, Middelburg, Mpumalanga Staatsdienspatronaat Dr.
Xolela Mangcu skryf onlangs ’n artikel oor “Being patronised by Princes” met
verwysing na die jongste vlaag van vergaping op die makropolitieke vlak. Dit
roep die vraag op na verpatronisering wat op ’n mikrovlak gebeur waar senior
bestuurders binne die staatsdiens hul eie elitisme verabsoluteer ten koste van
dienslewering, maar bo alles om die imperatiewe van die hoog aangeskrewe
Suid-Afrkaanse Grondwet te kompromiteer. ’n Oorsig oor onlangse sake wat in die arbeidshowe aandag
kry, toon dat soveel energie spandeer word om die legitieme aansprake van
werkers, veral in die staatsdiens, te frustreer en die kommerwekkende is dat
die prinse en prinsesse in die staasdiens die prosesse manipuleer met
staatsbates. ’n Onlangse uitspraak van een van die hoogste howe van
die land het juis die aandag daarop gevetsig dat senior bestuurders dit moeilik
vind om te verstaan dat gelde wat uit hul begrotings betaal word inderdaad
staatsgeld is en dat hulle veronderstel is om dienslewering te bevorder en nie
eie agenda’s, soos onder meer onbevoegdheid te verdoesel. Daar is al so baie aangevoer dat die beskerming van die
indiwidu verskans word binne die SA Grondwet, maar juis in die elitistiese
benadering tot staatsbestuur word die essensie van die Grondwet afgewater. Dit
mag nie gebeur dat die verpatronisering deur die prinse dienslewering en ons
verbintenis soos vervat in die handves van menseregte verswak nie. – Staatsamptenaar, Upington Afrikaner-diaspora Daar
is ’n ou stelling dat Afrikaners nie kan saamstaan nie. Dis ’n drogteorie: geen
volk staan saam nie. As hulle het, sou demokrasie geen nut gehad het nie. Volke
moet saambly, nie saam staan nie. As ons enigsins ernstig is oor die oorlewing
van Afrikaanse kultuur en taal moet die diaspora na ’n konsentrasie omgedraai
word. ’n Diaspora is ’n verwoestende mag wat geen volk in die geskiedenis
oorleef het nie. Ek glo dat omrede Afrikaners nie die pyn daarvan emosioneel
kon uitdruk nie, het hulle dit eerstens beleef as ’n verlies aan mag en met
magsvergryp(apartheid) probeer herstel. Tweedens het ons dit in die basiese
emosies laat geld, oordrewe liefde vir taal. Rassisme was en sal in hierdie
toestand die enigste manier wees om jou fisiese(etniese) voortbestaan te
regverdig. Ons moet besluit of ons wil voortgaan of nie, wil ons oorleef of
internasionale opinie tevrede stel en sterf. Nou wat van die oplossing? – Attie Schutte, Pretoria Kaapse naamsverandering Die
enigste Afrikaanse straatnaam aan Kaapstad se waterkant, die
“Breekwater-boulevard”, is pas verander na die “Breakwater Boulevard”. Soos
sulke dinge gedoen word, het dit stil-stil plaasgevind, sonder aankondiging of
raadpleging van die algehele taalmeerderheid van die stad en die provinsie, die
Afrikaanssprekendes. Dié besluit is heel waarskynlik geneem
deur die plaaslike bestuur van die V&A-waterkant, en nie deur sy nuwe
Brits-Arabiese eienaars nie. Dis dieselfde bestuur wat met
klaarblyklike bravade ’n bordjie aangebring het om miljoene besoekers te wys
watter deel van die hawe Kaapstad ’n raps meer as ’n eeu gelede vir net die
Britse oorlogsmasjien opsygesit het om sy skandalige moord-en-roof plundertog
in die twee Boererepublieke te bevorder. Hierdie bordjie het intussen spoorloos
verdwyn. Daarvoor sou die stad se Engelssprekende “liberale” gesorg het, wat
mos nooit aan enigiets skuldig is nie. Die stad se waterkant het besluit hy kan
sonder Afrikaans klaarkom, dis vir seker. In dié duur inkopiegebied is ek deur
’n hele winkel (Cape Union Mart) uitgelag omdat ek op Afrikaans aangedring het,
en om dieselfde rede by ’n ander (Audiovision) uitgejaag. Kan die V&A-waterkant sonder die
Afrikaanssprekendes se geld klaarkom? Dis baie onwaarskynlik. Maar miskien moet
dit tog op die proef gestel word deur vir die volgende drie maande weg te bly.
Indien dít onmoontlik is, kan geen geld daar bestee word nie. ’n Mondelinge en
teksveldtog kan die knoop deurhak. Of is die Kapenaars slegter as die
Transvalers? – Inkoper, Kaapstad Hernubare energie Ek
het self ook al gepeuter met seegolfenergie en glo steeds dat dit jammer is dat
daar nie meer ernstig daarna gekyk word nie. Ek wonder al reeds etlike jare
lank of iemand dalk al daaraan gedink het om die groot dag-tot-nag
temperatuurskommeling in veral woestyngebiede as energiebron aan te wend. My
idee is basies: In die dag styg die oppervlaktemperatuur redelik bo die
gemiddelde ondergrondse temperatuur, terwyl die omgekeerde in dieselfde mate in
die nag gebeur. As mens iets soos ’n geslote vervloeidegasstelsel sou kon
ontwerp wat verkoelingsgas in groot maat kon verplaas tussen ’n bogrondse en ’n
ondergrondse verspreide gastenk in die vorm van ’n pypnetwerk, kan die
wisselende temperatuur bogronds en die konstante gemiddelde temperatuur
ondergronds dus ’n wisselende temperatuur differensiaal verskaf wat tot ’n
wisselende gasdrukdifferensiaal tussen bo- en ondergronds sal lei waardeur gas
volumetries verplaas kan word om energie op te wek. Dus ’n tipe
aardrotasiestralingsvlakgolfgenerator. Gestel die bogrondse pypnetwerk van die geslote gastelsel
sou in die namiddag tot vyftig grade bak en in die oggend vroeg tot ongeveer
tien grade daal, sal dit beteken dat die temperatuur in die ondergrondse
pypnetwerk ’n redelike konstante dertig grade sal bly weens termiese inersie en
isolasie van die aardbodem. Dit sal beteken dat die verkoelingsgas in die dag
sal afkook en kondenseer ondergronds en in die nag sal opkook en kondenseer
bogronds in ’n ewigdurende en voorspelbare siklus. Optimum volumes verkoelergas kan op op hierdie manier
heen-en-weer onder druk verplaas per 24 uur-siklus. Indien ’n minimum turbine
werksdruk differensiaal eers oorskry moet word voordat kleppe die gas deur die
turbine toelaat, kan optimum werkverrigting oor effens verkorte tye automaties
beheer word. ’n Deel van die energie kan as saamgeperste lug in groot drukvate
gestoor word om energie tydens die dooie ewewigstye te verskaf wanneer die
turbine se kleppe toe is om sodoende ononderboroke energie in harmonie met die
aanvraag te lewer. Een ding is seker, geweldige hoeveelhede sonstralingsenergie
straal bedags in, veral oor woestyngebiede om net weer snags as infrarooi hitte
uitgestraal te word. Hierdie voorspelbare termiese oppervlakenergiegolf bied ’n
geweldige benutbare energiepotensiaal. So ’n stelsel behoort met goeie
outomatiese beheer, sonder toesig vir lang tye effektief te opereer, veral
omdat skadelike klimaatsfaktore onmoontlik so ’n geslote gasstelsel kan
binnedring, wat beteken dat meganiese komponente ontwerp kan word om ’n lang en
voorspelbare werkslewe te hê. Onderhoud kan dus met met akkuraatheid vooruit beplan
word. ’n Ander groot voordeel in die benutting van woestyn, net soos die
see-energie is natuurlik dat die wildernis grond vir so ’n aanleg goedkoop en
beskikbaar behoort te wees. Andersinds kan kleiner installasies selfs ’n enkele
huis of huise van krag voorsien mits alle faktore dit toelaat. Indien ’n lae
lekkasierisiko bestaan en ’n omgewingsvriendelike gas gebruik word, sal die
omgewingsimpak en risiko minimaal wees in ’n dorre woestyngebied. Die energie wat so opgewek word kan selfs gebruik word om
vars water deur kondensasie of waterontsouting te lewer aan geskikte boerdery
in ’n omgewing waarin dit andersinds onmoontlik sou wees. Dit kan lei tot ’n
dubbele voordeel en selfs die vestiging van nuwe beskikbare grond vir die
bio-brandstof bedryf sonder om bestaande voedselproduksie te benadeel. Kontak my gerus na saans by 072-447-9422. – Izak van der Westhuizen, Brackenfell Krynauw-familieregister Ek is al vir ’n geruime tyd besig om navorsing te doen oor die Krynauw-familie,
beide in Suid-Afrika en in die buiteland. In die proses het ek ’n register
saamgestel bestaande uit ongeveer 750 Krynauws en ongeveer 500 aangetroudes en
direkte nasatemet ander vanne. Ek beoog om die register na voltooiing
beskikbaar te stel. Daar nog heelwat gapings in my databasis en
baie waarskynlik ook foute. Dus versoek ek alle Krynauws, Krynauw-aangetroudes,
Krynauw-nasate of enige ander belangtellendes om my asseblief te kontak. Ek sou
graag my inligting wil opdateer en enige moontlike foute wou regstel voordat
die register die lig sien. Kontak my asseblief by krynauw@gmail.com of
te Posbus 21555; Bluff; 4036. – Jos le Roux, Durban Chávez Die
artikel oor Hugo Chávez in (DVA,17 Augustus 2007) van Ignaçio Ramonet
verwys. Hierdie artikel is wel nie Die Vrye Afrikaan s'n nie, maar ’n
vertaling uit Le Monde diplomatique, maar die feit dat dit geplaas is,
en uitsprake deur u redakteur by ’n onlangse konferensie in Orania laat blyk
dat Die Vrye Afrikaan wel met die inhoud van die artikel saamstem. Of Hugo Chávez ’n held of ’n skurk is, hang natuurlik van
’n mens se eie politieke standpunt af. Vir diegene wat neo-marxisties en
anti-Amerikaans ingesteld is, sal hy vir seker ’n held wees. Maar die volgende
behoort ’n mens te laat wonder of Chávez werklik verdien om hoegenaamd as nuwe
ikoon van wie ook al gebruik te word: *
Chávez en Venezuela is nie die klein Dawid wat deur die Goliat VSA geboelie
word nie. Venezuela is danksy sy olierykdom welvarend en gebruik dit weereens
om die propagandaveldtog teen die VSA en die Weste aan te vuur. Hy staan ook
beslis nie alleen nie, met ander Derde-Wêreldleiers, Rusland, China, Europese
en Amerikaanse linkses aan sy kant. *
Aan jou vriende sal jy geken word. Chávez se vriende is berugte diktators en
verdrukkers, soos Fidel Castro van Kuba, Ahmedinejad van Iran, Robert Mugabe
van Zimbabwe, wat hy blykbaar sy broeders noem en wat soos hy besig is met die
gunstelingspeletjie van Derde-Wêreldleiers: Die bestryding van die
"kapitalistiese, imperialistiese, rassistiese satan Amerika", soos
hul politieke vader, die Sowjet-Unie, hulle geleer het. * Of
Chávez werklik so baie vir die armes doen, kan bevraagteken word. Sy stelsel
van sosialisme wat hy nou met hoë spoed in Venezuela invoer, het nog nooit
êrens in die wêreld vir enige iemand gehelp behalwe vir ’n nuwe politieke elite
nie. Die armes mag aanvanklik bevoordeel word deur herverdeling, maar kry later
die swaarste wanneer die land weens sosialistise wanbestuur in duie stort. Ons
wag nog vir die een land wat sedert die instelling van sosialisme as ekonomiese
model aan die begin van die 20ste eeu ’n sukses is. Nog ’n aanmerking oor Ramonet se artikel: As daar dan
volgens hom ’n haatveldtog teen Chávez deur Bush se magte aan die gang is, dan
wonder ek hoekom ’n mens nooit iets positief oor Bush in dieselfde media lees
wat sleg oor Chávez praat nie. Laastens, as die wêreld dan ’n politieke leier uit
Suid-Amerika soek wat bewonderenswaardig is, dan moet hulle Alvaro Uribe van
Colombia kies: hy het dwelmhandel, geweldsmisdaad, terrorisme en insurgensie
suksesvol beveg en ’n mate van veiligheid en stabiliteit na een van die mees
onsekere en gevaarlike lande ter wêreld gebring. Bonoop het Colombia se
ekonomie vorentoe gegaan en is korrupsie beveg. Ook die armes het daarvan
geprofiteer, heel waarskynlik meer as van Chávez se sosialisme. Maar Uribe se
suksesse sal natuurlik verswyg word deur die media, want hy is ’n bondgenoot
van George Bush. – SM
Biehl, Orania Maanvrug Annelise
was dapper en vreesloos om as Afrikanervrou haar Maanvrug die lig te
laat sien. Wat ons ander vroue fantaseer en droom in die donkerte van ons eie
gedagtes, het sy op papier gesit en vir die wêreld gewys. Ek voel opgewonde oor
die boek en dat dit diegene wat dapper genoeg is om dit te lees die moed sal
gee om ook hul gedagtes te bevry en in pas te kom met hul eie seksualiteit. Dit
sal ons help om los te breek uit die greep van diepgewortelde skuldgevoelens
wat ons as Afrikanerkinders saam met ons mieliepap en boerewors ingegee is.
Uiteindelik kan dit sorg vir ’n beter, vryer en minder jaloerse wêreld. Maar,
dit is my droom. – Daleen du Toit, Pretoria Lewer kommentaar op hierdie bydrae |