Druk   Tuisblad
Redakteursbrief; Misdaad; Staatsdienspatronaat; Afrikaner-diaspora; Kaapse naamsverandering; Hernubare energie; Krynauw-familieregister; Chávez; Maanvrug 2007-12-11  
Redakteursbrief

Geagte leser,

Twee sonderlinge figure wat die droom van ’n ander wêreld in handel en wandel beliggaam het, en ook gereelde medewerkers van Die Vrye Afrikaan was, het ons in die afgelope weke ontval: die gemeenskapsekonome Margaret Legum en Johan van Zyl, wat albei in hulle sewentigs was. Ter nagedagtenis aan hierdie groot figure en vriende van ons, word hierdie uitgawe se dossier, “Die wêreld van verbruik”, aan Margaret en Johan opgedra, met ons beste wense aan hulle geliefdes.

 As u nog nie ingeteken het op Die Vrye Afrikaan nie, kan u steeds. Intekening vir die papieruitgawe binnelands kos R30 per uitgawe, terwyl intekening op die elektroniese uitgawe R20 per maand kos, wat ook help om die blad se webwerf oop te hou. So nie, kan u vandag nog aansluit as lid van die FAK teen R30 per maand, wat nie net gratis ontvangs van Die Vrye Afrikaan insluit nie, maar ook voorkeurtoegang tot die FAK se openbare standpunte, mediaverklarings, byeenkomste en aksies. Skakel ons sekretaresse, Sarie Marais, by 012-301-1777, of stuur ’n e-pos na sariem@fak.org.za. Maar onthou dat die FAK-kantoor sluit op 13 Desember en heropen op 14 Januarie.

 Hiermee dan ook ons beste wense vir 2008.

Johann Rossouw

Redakteur


Misdaad

Die FAK se amptelike standpunt “Misdaad, oorsake en wat om daaraan te doen”, sal ’n uitgesproke Afrikaanse taalpuris en anti-plaasmoordaktivis soos Dan Roodt dalk in die privaat laat uitroep: “FAK-ken unbelievable!”

Hoekom? Omdat die artikel geen raad weet vir die ylerbevolkte periferie: die platteland met sy voedselproduserende plase nie. Plase en plotte het geen buurtwagte nie, want die buurman woon verder as loopafstand. Daarom was daar betaalde kommando's, wat die staat nou nie meer betaal nie. Afgeskaf in landsbelang, want die staat staan self nie meer sterk op die platteland nie.

Niemand sing op die platteland: "Fokofpolisiekar" nie, want daar is nie polisiekarre wat kan nie. Met die platteland sonder staatsmag, en nou ook sonder boerekommandomag, is dit geen vraagstuk waarom rassegeweldsmisdade daar plaasvind nie - daar bestaan geen beskaafde monopolie op geweld nie.

Dis ’n “vryemarkstelsel” Wilde Weste, met die blanke boere die inheemse Indiane.

Waarom skryf ek hierdie brief? Want ek is soos die skrywers van die FAK-artikel deel van die individualistiese, neo-kapitalistiese, blanke verbruikersgemeenskap wat buurtveiligheid koop, en my vrou en dogter binne ’n veilige buurt hou, uit vrees dat hulle daarbuite deur barbare verkrag word.

 Maar die eintlike rede: nou word ek boonop bang dat voedselproduksie op die platteland weens misdaad nie vinnig genoeg toeneem om aan ons stedelike bevolkings se behoeftes te voldoen nie.

Indien dit gebeur, kan ons voorspel dat geweldsmisdaad in ons stede in die volgende dekade weens skerp stygende voedselpryse sal eskaleer, ten spyte van talle antimisdaadgemeenskapsinisiatiewe.

Die ergste le dus dalk nog voor, en sonder ’n sterk en gesagvolle staat, sal die lig gewapende bevoorregte gemeenskappe die oorlog buite hul ommuurde woonbuurte en werkplekke verloor.

Overgesetsynde: buite die Dainfern-forte sal die dood heers, en nie die staat of gemeenskappe nie.

 Tensy ’n Zuma-president tradisionele Zoeloe-dissipline afdwing soos die diktator Oliver Cromwell, van wie Hobbes ’n apologeet was.

So nie, sal ’n Tsaar Poetin of Keiser Hu eendag die wet en orde in die mineraalryke Transvaal, en die uitvoerprovinsie Kwazulu-Natal herstel – vir seker.

– Jacob Mouw, Middelburg, Mpumalanga


Staatsdienspatronaat

Dr. Xolela Mangcu skryf onlangs ’n artikel oor “Being patronised by Princes” met verwysing na die jongste vlaag van vergaping op die makropolitieke vlak. Dit roep die vraag op na verpatronisering wat op ’n mikrovlak gebeur waar senior bestuurders binne die staatsdiens hul eie elitisme verabsoluteer ten koste van dienslewering, maar bo alles om die imperatiewe van die hoog aangeskrewe Suid-Afrkaanse Grondwet te kompromiteer.

’n Oorsig oor onlangse sake wat in die arbeidshowe aandag kry, toon dat soveel energie spandeer word om die legitieme aansprake van werkers, veral in die staatsdiens, te frustreer en die kommerwekkende is dat die prinse en prinsesse in die staasdiens die prosesse manipuleer met staatsbates.

’n Onlangse uitspraak van een van die hoogste howe van die land het juis die aandag daarop gevetsig dat senior bestuurders dit moeilik vind om te verstaan dat gelde wat uit hul begrotings betaal word inderdaad staatsgeld is en dat hulle veronderstel is om dienslewering te bevorder en nie eie agenda’s, soos onder meer onbevoegdheid te verdoesel.

Daar is al so baie aangevoer dat die beskerming van die indiwidu verskans word binne die SA Grondwet, maar juis in die elitistiese benadering tot staatsbestuur word die essensie van die Grondwet afgewater. Dit mag nie gebeur dat die verpatronisering deur die prinse dienslewering en ons verbintenis soos vervat in die handves van menseregte verswak nie.

– Staatsamptenaar, Upington


Afrikaner-diaspora

Daar is ’n ou stelling dat Afrikaners nie kan saamstaan nie. Dis ’n drogteorie: geen volk staan saam nie. As hulle het, sou demokrasie geen nut gehad het nie. Volke moet saambly, nie saam staan nie. As ons enigsins ernstig is oor die oorlewing van Afrikaanse kultuur en taal moet die diaspora na ’n konsentrasie omgedraai word. ’n Diaspora is ’n verwoestende mag wat geen volk in die geskiedenis oorleef het nie.

Ek glo dat omrede Afrikaners nie die pyn daarvan emosioneel kon uitdruk nie, het hulle dit eerstens beleef as ’n verlies aan mag en met magsvergryp(apartheid) probeer herstel. Tweedens het ons dit in die basiese emosies laat geld, oordrewe liefde vir taal. Rassisme was en sal in hierdie toestand die enigste manier wees om jou fisiese(etniese) voortbestaan te regverdig. Ons moet besluit of ons wil voortgaan of nie, wil ons oorleef of internasionale opinie tevrede stel en sterf.

Nou wat van die oplossing?

– Attie Schutte, Pretoria


Kaapse naamsverandering

Die enigste Afrikaanse straatnaam aan Kaapstad se waterkant, die “Breekwater-boulevard”, is pas verander na die “Breakwater Boulevard”. Soos sulke dinge gedoen word, het dit stil-stil plaasgevind, sonder aankondiging of raadpleging van die algehele taalmeerderheid van die stad en die provinsie, die Afrikaanssprekendes.

 Dié besluit is heel waarskynlik geneem deur die plaaslike bestuur van die V&A-waterkant, en nie deur sy nuwe Brits-Arabiese eienaars nie.

 Dis dieselfde bestuur wat met klaarblyklike bravade ’n bordjie aangebring het om miljoene besoekers te wys watter deel van die hawe Kaapstad ’n raps meer as ’n eeu gelede vir net die Britse oorlogsmasjien opsygesit het om sy skandalige moord-en-roof plundertog in die twee Boererepublieke te bevorder.

 Hierdie bordjie het intussen spoorloos verdwyn. Daarvoor sou die stad se Engelssprekende “liberale” gesorg het, wat mos nooit aan enigiets skuldig is nie.

 Die stad se waterkant het besluit hy kan sonder Afrikaans klaarkom, dis vir seker. In dié duur inkopiegebied is ek deur ’n hele winkel (Cape Union Mart) uitgelag omdat ek op Afrikaans aangedring het, en om dieselfde rede by ’n ander (Audiovision) uitgejaag.

 Kan die V&A-waterkant sonder die Afrikaanssprekendes se geld klaarkom? Dis baie onwaarskynlik. Maar miskien moet dit tog op die proef gestel word deur vir die volgende drie maande weg te bly. Indien dít onmoontlik is, kan geen geld daar bestee word nie. ’n Mondelinge en teksveldtog kan die knoop deurhak. Of is die Kapenaars slegter as die Transvalers?

– Inkoper, Kaapstad


Hernubare energie

Ek het self ook al gepeuter met seegolfenergie en glo steeds dat dit jammer is dat daar nie meer ernstig daarna gekyk word nie. Ek wonder al reeds etlike jare lank of iemand dalk al daaraan gedink het om die groot dag-tot-nag temperatuurskommeling in veral woestyngebiede as energiebron aan te wend. My idee is basies: In die dag styg die oppervlaktemperatuur redelik bo die gemiddelde ondergrondse temperatuur, terwyl die omgekeerde in dieselfde mate in die nag gebeur.

As mens iets soos ’n geslote vervloeidegasstelsel sou kon ontwerp wat verkoelingsgas in groot maat kon verplaas tussen ’n bogrondse en ’n ondergrondse verspreide gastenk in die vorm van ’n pypnetwerk, kan die wisselende temperatuur bogronds en die konstante gemiddelde temperatuur ondergronds dus ’n wisselende temperatuur differensiaal verskaf wat tot ’n wisselende gasdrukdifferensiaal tussen bo- en ondergronds sal lei waardeur gas volumetries verplaas kan word om energie op te wek. Dus ’n tipe aardrotasiestralingsvlakgolfgenerator.

Gestel die bogrondse pypnetwerk van die geslote gastelsel sou in die namiddag tot vyftig grade bak en in die oggend vroeg tot ongeveer tien grade daal, sal dit beteken dat die temperatuur in die ondergrondse pypnetwerk ’n redelike konstante dertig grade sal bly weens termiese inersie en isolasie van die aardbodem. Dit sal beteken dat die verkoelingsgas in die dag sal afkook en kondenseer ondergronds en in die nag sal opkook en kondenseer bogronds in ’n ewigdurende en voorspelbare siklus.

Optimum volumes verkoelergas kan op op hierdie manier heen-en-weer onder druk verplaas per 24 uur-siklus. Indien ’n minimum turbine werksdruk differensiaal eers oorskry moet word voordat kleppe die gas deur die turbine toelaat, kan optimum werkverrigting oor effens verkorte tye automaties beheer word. ’n Deel van die energie kan as saamgeperste lug in groot drukvate gestoor word om energie tydens die dooie ewewigstye te verskaf wanneer die turbine se kleppe toe is om sodoende ononderboroke energie in harmonie met die aanvraag te lewer.

Een ding is seker, geweldige hoeveelhede sonstralingsenergie straal bedags in, veral oor woestyngebiede om net weer snags as infrarooi hitte uitgestraal te word. Hierdie voorspelbare termiese oppervlakenergiegolf bied ’n geweldige benutbare energiepotensiaal. So ’n stelsel behoort met goeie outomatiese beheer, sonder toesig vir lang tye effektief te opereer, veral omdat skadelike klimaatsfaktore onmoontlik so ’n geslote gasstelsel kan binnedring, wat beteken dat meganiese komponente ontwerp kan word om ’n lang en voorspelbare werkslewe te hê.

Onderhoud kan dus met met akkuraatheid vooruit beplan word. ’n Ander groot voordeel in die benutting van woestyn, net soos die see-energie is natuurlik dat die wildernis grond vir so ’n aanleg goedkoop en beskikbaar behoort te wees. Andersinds kan kleiner installasies selfs ’n enkele huis of huise van krag voorsien mits alle faktore dit toelaat. Indien ’n lae lekkasierisiko bestaan en ’n omgewingsvriendelike gas gebruik word, sal die omgewingsimpak en risiko minimaal wees in ’n dorre woestyngebied.

Die energie wat so opgewek word kan selfs gebruik word om vars water deur kondensasie of waterontsouting te lewer aan geskikte boerdery in ’n omgewing waarin dit andersinds onmoontlik sou wees. Dit kan lei tot ’n dubbele voordeel en selfs die vestiging van nuwe beskikbare grond vir die bio-brandstof bedryf sonder om bestaande voedselproduksie te benadeel.

 Kontak my gerus na saans by 072-447-9422.

– Izak van der Westhuizen, Brackenfell


Krynauw-familieregister

Ek is al vir ’n geruime tyd besig om navorsing te doen oor die Krynauw-familie, beide in Suid-Afrika en in die buiteland. In die proses het ek ’n register saamgestel bestaande uit ongeveer 750 Krynauws en ongeveer 500 aangetroudes en direkte nasatemet ander vanne. Ek beoog om die register na voltooiing beskikbaar te stel.

Daar nog heelwat gapings in my databasis en baie waarskynlik ook foute. Dus versoek ek alle Krynauws, Krynauw-aangetroudes, Krynauw-nasate of enige ander belangtellendes om my asseblief te kontak. Ek sou graag my inligting wil opdateer en enige moontlike foute wou regstel voordat die register die lig sien.

Kontak my asseblief by krynauw@gmail.com of te Posbus 21555; Bluff; 4036.

– Jos le Roux, Durban


Chávez

Die artikel oor Hugo Chávez in (DVA,17 Augustus 2007) van Ignaçio Ramonet verwys. Hierdie artikel is wel nie Die Vrye Afrikaan s'n nie, maar ’n vertaling uit Le Monde diplomatique, maar die feit dat dit geplaas is, en uitsprake deur u redakteur by ’n onlangse konferensie in Orania laat blyk dat Die Vrye Afrikaan wel met die inhoud van die artikel saamstem.

Of Hugo Chávez ’n held of ’n skurk is, hang natuurlik van ’n mens se eie politieke standpunt af. Vir diegene wat neo-marxisties en anti-Amerikaans ingesteld is, sal hy vir seker ’n held wees. Maar die volgende behoort ’n mens te laat wonder of Chávez werklik verdien om hoegenaamd as nuwe ikoon van wie ook al gebruik te word:

* Chávez is nie ’n demokraat nie. Hy was reeds in 1992 die kop van ’n mislukte staatsgreep en was in die tronk. Die feit dat hy later met ’n meerderheid verkies is maak van hom nog nie ’n demokraat nie. Ook Robert Mugabe (en, as u dan wil, sonder om die vergelyking te ver te voer, Adolf Hitler) is demokraties as leiers verkose. Chávez se huidige bestuurstyl en optrede word egter as diktatoriaal bestempel.

* Chávez en Venezuela is nie die klein Dawid wat deur die Goliat VSA geboelie word nie. Venezuela is danksy sy olierykdom welvarend en gebruik dit weereens om die propagandaveldtog teen die VSA en die Weste aan te vuur. Hy staan ook beslis nie alleen nie, met ander Derde-Wêreldleiers, Rusland, China, Europese en Amerikaanse linkses aan sy kant.

* Aan jou vriende sal jy geken word. Chávez se vriende is berugte diktators en verdrukkers, soos Fidel Castro van Kuba, Ahmedinejad van Iran, Robert Mugabe van Zimbabwe, wat hy blykbaar sy broeders noem en wat soos hy besig is met die gunstelingspeletjie van Derde-Wêreldleiers: Die bestryding van die "kapitalistiese, imperialistiese, rassistiese satan Amerika", soos hul politieke vader, die Sowjet-Unie, hulle geleer het.

* Of Chávez werklik so baie vir die armes doen, kan bevraagteken word. Sy stelsel van sosialisme wat hy nou met hoë spoed in Venezuela invoer, het nog nooit êrens in die wêreld vir enige iemand gehelp behalwe vir ’n nuwe politieke elite nie. Die armes mag aanvanklik bevoordeel word deur herverdeling, maar kry later die swaarste wanneer die land weens sosialistise wanbestuur in duie stort. Ons wag nog vir die een land wat sedert die instelling van sosialisme as ekonomiese model aan die begin van die 20ste eeu ’n sukses is.

Nog ’n aanmerking oor Ramonet se artikel: As daar dan volgens hom ’n haatveldtog teen Chávez deur Bush se magte aan die gang is, dan wonder ek hoekom ’n mens nooit iets positief oor Bush in dieselfde media lees wat sleg oor Chávez praat nie.

Laastens, as die wêreld dan ’n politieke leier uit Suid-Amerika soek wat bewonderenswaardig is, dan moet hulle Alvaro Uribe van Colombia kies: hy het dwelmhandel, geweldsmisdaad, terrorisme en insurgensie suksesvol beveg en ’n mate van veiligheid en stabiliteit na een van die mees onsekere en gevaarlike lande ter wêreld gebring. Bonoop het Colombia se ekonomie vorentoe gegaan en is korrupsie beveg. Ook die armes het daarvan geprofiteer, heel waarskynlik meer as van Chávez se sosialisme. Maar Uribe se suksesse sal natuurlik verswyg word deur die media, want hy is ’n bondgenoot van George Bush.

– SM Biehl, Orania


Maanvrug

Annelise was dapper en vreesloos om as Afrikanervrou haar Maanvrug die lig te laat sien. Wat ons ander vroue fantaseer en droom in die donkerte van ons eie gedagtes, het sy op papier gesit en vir die wêreld gewys. Ek voel opgewonde oor die boek en dat dit diegene wat dapper genoeg is om dit te lees die moed sal gee om ook hul gedagtes te bevry en in pas te kom met hul eie seksualiteit. Dit sal ons help om los te breek uit die greep van diepgewortelde skuldgevoelens wat ons as Afrikanerkinders saam met ons mieliepap en boerewors ingegee is. Uiteindelik kan dit sorg vir ’n beter, vryer en minder jaloerse wêreld. Maar, dit is my droom.

– Daleen du Toit, Pretoria



Lewer kommentaar op hierdie bydrae